Blogs

Hoofartikel: Onkunde en dom besluite

Common sense behoort mense te keer om in slagysters te trap.

Deesdae ondervind soveel mense dat skuldeisers aan hul deure kom klop oor werk wat kwansuis maande gelede gelewer is. Dit lyk asof sommige maatskappye nou eers hul administrasie agterstand inhaal.

En op ’n gegewe dag kry ek toe ook uit die bloute so ’n oproep.

Danksy die True Caller-toep is dit maklik om die eisers se herhaalde oproepe te ontduik deur eenvoudig nie die vreemde nommer te antwoord nie.

Maar soos die spreekwoord sê: Aanhouer wen. Op ’n dag pla jou gewete jou net te veel en jy antwoord. ’n Saaklike stem aan die anderkant dreig jou met ’n dringende stemtoon: Betaal of anders …

Natuurlik is dit geregverdig dat jy uitstaande skuld moet betaal. Boonop skrik jy vir die woorde “final letter of demand” wat nou op SMS’e deurkom.

Wat my egter hond se gedagte gegee het, is dat daar drie verskillende rekenings uitgereik is vir dieselfde diens en onder verskillende maatskappye se naam. Die groot bedrae was nog ’n rooi vlag.

Uit radeloosheid klop ek by die diensverskaffer self aan om lig te werp op die buitensporige rekening.

Daar word toe vir my verduidelik dat daar slegs een werklike rekening uitstaande is. Daar is slegs aan een invorderingsmaatskappy magtiging gegee om namens hulle op te tree.

Dit tref my toe dat ek moontlik ’n slenter vrygespring het.

So word die korrekte bedrag en die invorderaar se besonderhede aan my verskaf en ek voel meer gerus — al moet ek betaal.

Ek staan hoeka verlede week stil by die Bela-Bela-polisiestasie toe kol. Piet Maswanganyi my weer in die verbygang gryp en vra om mense vir die hoeveelste keer te waarsku oor selfoon- en internetbedrog.

Hy sê dit is kommerwekkend dat inwoners ná herhaalde waarskuwings in die media nog steeds val vir slenters.

My werkswyse wat deur die joernalistiek vasgelê is (wie, wat, waar, wanneer, hoekom en hoe) het weer vrugte afgewerp. Is dit die waarheid? Is dit regverdig teenoor almal? Sal dit welwillendheid bevorder en beter bande bou? Hou dit voordeel in vir al die betrokkenes?

Die Bybel waarsku: moenie lieg of steel nie én kyk uit vir die duiwel wat uit is om te steel. Soos Larry King, bekende televisie persoonlikheid op die kassie, altyd gesê het: Question more.

Onkunde en dom besluite dra by daartoe dat ons kaal gestroop word deur misdadigers. Maak asseblief slimmer keuses.

Related Articles

Back to top button