LifestyleRecipes

Eksotiese sushi in die Waterberg

Daar was ’n gevoel van opgewondenheid toe 40 sushiliefhebbers op Saterdagoggend 1 Julie in Mookgophong bymekaar gekom het om die kuns van hierdie eksotiese dis aan te leer.

Twee gerekende sjefs, Mien Farrell en Jennifer Kearney, wat in 2020 buite Mookgophong op Farrell se geboortegrond kom woon het, het die kursus aangebied. Die sjefs het besluit om hul talente en uitgebreide kennis van kos met Waterberg-inwoners te deel.

Die eerste werkwinkel is by Mariaan Schermann aangebied. Elkeen het al die bestanddele en die nodige toerusting gekry om die sushi te maak. Farrell het verskeie prosesse gedemonstreer en almal het daarna die geleentheid gehad om hul eie sushi te maak. “Dit was nou ’n heerlike oggend,” het André Pienaar, self ’n uitstekend sjef, aan Die Pos gesê.

Farrell het op die plaas in die Waterberg grootgeword en het altyd gehunker om haarself hier te vestig.

Sjef Jennifer Kearney, Mariaan Schermann en sjef Mien Farrell met die heerlike bord tuisgemaakte sushi.

“Ek het grootgeword in ’n kosfamilie. Almal is lief vir kosmaak en lekker eet. Dit was altyd my passie om betrokke te wees by die voorbereiding van watertandgeregte,” het sy vertel.

Sy het eers regte gestudeer, maar dit was nooit haar passie nie en sy het in haar vrye tyd begin om spyseniering te doen. Mien is ’n oudleerder van Hoërskool Hans Strijdom in die dorp.

Kearney is in Rustenburg gebore en het ’n loopbaan as aankoper by ’n bekende myngroep beoefen. Sy het later ’n pos in Pretoria aanvaar en sy en Farrell het goeie vriende geword nadat hulle by die Bybelskool ontmoet het.

Farrell het ’n graad in pastorale berading verwerf en Kearney ’n diploma in dieselfde rigting.

Mien het hulp nodig gehad met funksies en spyseniering oor naweke en Jennifer het ingespring en haar gehelp. Gou het die twee vriende besluit om saam te begin werk en só is Divine Delights gebore. Die twee het deeltyds kursusse in die kosbedryf begin volg en ’n goeie kliëntebasis opgebou in veral die korporatiewe wêreld waar hulle gereeld spyseniering vir geleenthede behartig het.

Hulle het naweke troukoeke gebak en ná vyf jaar, in 1998, het hulle voltyds begin met Divine Delights. Hulle onderneming het vinnig gegroei en in 2009 ’n silwer toekenning in die koekontwerpkategorie van die Suid-Afrikaanse Bruidsindustrie Akademie gewen. Hulle kreatiewe troukoeke was ook op kykNET, Top Billing en in Huisgenoot te sien.

“Met Covid-19 het ons sakeonderneming vir feitlik ’n jaar tot stilstand gekom. Ons het ’n goeie aanbod gekry en besluit om die sakeonderneming te verkoop en ’n ruskansie van die uitmergelende bedryf te neem. Hulle het die bak- en troukoekafdeling van Divine Delights aan Goddess Café in Pretoria verkoop en daarna na Mookgophong verhuis. Ons hou baie daarvan om mense op te lei en hul touwys te maak in die voorbereiding van eksotiese geregte,” het Mien gesê

“Ons doel is en was nog altyd om ’n produk te skep wat net so genotvol as pragtig is. Ons glo dat die gehalte produkte wat ons skep getuig van ons passie, toewyding en opregte liefde vir bak en kook. Die heerlike smaak van geregte sal altyd eerste prioriteit wees en ons sal dit nie prysgee nie,” het Kearney gesê.

Related Articles

Back to top button