Local news

VLU hou spesiale dag net vir die manne

Die Vroue Landbou-unie (VLU) se Mabalingwe-tak buite Bela-Bela is baie opgewonde om ’n besondere geleentheid vir die manne aan te bied.

Die manne sal Saterdag 29 Julie by die Mabalingwe-natuurreservaat deurbring.

Kitty Bodenstein, VLU-voorsitter, sê die dag se fokus is die bewaring van die Waterberg se unieke fauna en flora. Hulle wil ook besoekers aanmoedig om deel te word van die bewaringsnetwerk.

Geld wat die dag ingesamel word, sal aan die Boschpoort-roofdiere-sentrum geskenk word. Die sentrum is ’n nie-winsgewende maatskappy wat op die plaas Boschpoort gevestig is. Dit was die oorspronklike grond waarop die Mabalingwe-natuurreservaat ontstaan het.

Mabalingwe is een van die reservate in die land wat met die Groot Vyf spog.

Bodenstein sê die koste om beseerde diere te versorg is baie hoog. Die koste vir die vestiging en instandhouding van wilde diere in natuurreservate is baie hoog en indien die diere beseer is en spesiale versorging nodig het is die koste astronomies. Vir mense wat natuurbewaring na aan die hart lê, is eko-toerisme die aangewese wyse om geld te genereer om die hoë onkostes te dek sodat die natuur onversteurd kan bly. Die jag- en wildbedryf sorg dat natuurbewaring in ewewig bly.

Die voorlopige program begin die oggend om 09:00 by Hippo Creek-oord binne die reservaat. Die amptelike verwelkoming is om 09:30.

Besoekers vertrek dan om 10:00 na die Boschpoort-roofdiersentrum om die diere in lewende lywe te sien. Teen 12:00 keer almal terug na Hippo Creek vir verversings.

Die gasspreker is bekende televisiepersoonlikheid Andries Vermeulen wat om 12:30 lekker met die besoekers sal gesels en hulle vermaak.

Die gaste sal om 13:30 aansit vir ’n spitbraai-ete.

Die VLU hou daarna ’n voorlegging waarna ’n veiling om 14:45 gehou sal word. Daar is verskeie jaggeleenthede en vakansieverblyf op die spel. Die totale waarde van pryse is R40 000. Besoekers kan deur die dag geskenke, pryse of lootjies wen.

Kaartjies word verkoop teen R650 per persoon.

Vir telefoniese navrae kan mense tel (014) 001 7010 skakel of ’n WhatsApp-boodskap stuur na tel. 076 624 7394.

Die organiseerders versoek dat mense hul bewyse van betaling e-pos na reception@boschpoort.co.za(.)

Related Articles

Back to top button