Local news

Harde werk en geloof deel van dié egpaar se sukses

Die beste pad na sukses is om van jou stoel af op te staan en te werk, vertel Bertus Grobler waar hy vanoggend agter sy lessenaar by sy sakeperseel in Bela-Bela sit.

Bertus en sy vrou, Martie, is die eienaars van Grobbies Nuwe en Tweedehandse Onderdele en Insleepdiens. Vir dié geliefde egpaar van Bela-Bela is hulle sukses as sake-eienaars geanker in geloof en harde werk.

Nie net vier hulle vanjaar hulle 39ste huweliksherdenking nie, maar hulle is ook 29 jaar lank aan die woeker om hul sakeonderneming uit te bou.

Bertus vertel die sakeonderneming het sy deure in 1973 oopgemaak as Wright Panelbeaters. Dit het daarna aan verskeie eienaars behoort en op 17 November 1994 het hy en Martie die eienaars geword en het hulle die naam verander soos dit vandag nog bekend staan.

“Ek was van 1981 tot 1994 in die polisie se handelstak (bedrogeenheid). As jy vir die handelstak werk, sien jy ander mense se bankstate en dan besluit jy of dit die moeite werd is om vir sulke kleingeld te werk, of eerder jou eie onderneming te begin.”

Bertus sê die meeste van die handelstak se lede was mense wat hard gewerk en gedissiplineerd was.

“Die moeite wat jy daar ingesit het, kan jy net sowel in jou eie onderneming sit. Dit was die hoofrede dat ek as ’n kaptein in daardie stadium besluit het om te bedank.”

Hy het sy sakeonderneming by Willie Wentzel, wat as polisiereservis gewerk het, gekoop.

“In die begin was ons net vyf mense wat hier gewerk het. Ek het vir die eerste vyf jaar nie ’n salaris getrek nie en ons het oorleef op die geld wat Martie as ’n tikster in die polisiediens verdien het.”

Hy meen min mense sal bereid wees om dit te doen.

“Oor die algemeen wil mense instap en dadelik alles hê. Ek is suksesvol danksy my geloof. Ek loop ’n nabye pad met die Here.”

Bertus vertel die onderneming was eers naby die treinspoor aan die agterkant van Built It geleë. Later het hulle verhuis na waar dit vandag is in die industriële gebied langs die R516. Hy het mettertyd nog grond bygekoop en vandag beslaan die terrein waarop hy sake doen 1,5 hektaar.

Hy vertel Covid-19 het ook sy sakeonderneming erg geknou. Hy moes in daardie tyd deure toemaak soos baie ander sakeondernemings.

“Ek antwoord my selfoon dwarsdeur die nag. Ek hanteer die insleepdienste al gaan ek met vakansie. Die enigste keer dat ek nie self my selfoon kon beantwoord nie, was toe ek Covid-19 onder lede gehad het en Martie dit moes doen.”

Martie vertel sy en Bertus is Waterbergers wat anderkant Vaalwater grootgeword het. Hulle het mekaar egter eers leer ken nadat Bertus in die polisiediens was. Die koeël was deur die kerk en hulle is die trotse ouers van Leon, wat ook ’n bestuurder van die nuwe onderdele-afdeling is.

“Leon en sy vrou, Susanna, wat ’n veearts op die dorp is, emigreer egter in November na Australië. Hy sal dan ’n nuwe bestuur moet aanstel,” sê Bertus.

Martie se oë skiet vol trane as sy vertel hulle het nog ’n seun, Dries, in 2013 aan die dood afgestaan. Hy is op slag dood tydens ’n motorfietsongeluk. Dit is steeds moeilik om sy dood te verwerk. Hy was ’n geliefde inwoner van Bela-Bela.

Die egpaar is Bosvelders in murg en been en sê hulle geniet die buitelug en heerlike klimaat. Die lewe het hulle egter geleer om nederig te wees. Dan vertel Bertus wyle oom Fanie Mostert, pa van Renier Mostert, was sy mentor.

“Hy het destyds aan my gesê die 42 Kentucky-eetplekke wat hy besit, is nie syne nie — hy bestuur dit net na die beste van sy vermoë vir die Here. Met sy dood het hy 56 eetplekke onder sy vlerk gehad. Hy was altyd nederig.”

Dit is vir Bertus lekker om te weet hy kan enige plek in die dorp instap en sake doen.

“Al sou ek sê ek het nie geld aan my nie, sal ek gehelp word. Niemand in die dorp het my al ooit betwyfel nie. Die vertroue wat mense in my en Martie het, is ’n riem onder die hart. Ons is dankbaar en sorg dat ons altyd ’n goeie diens lewer.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button