EntertainmentLifestyle

Neil Sandilands-wintertoer bring musiek en kunste na dorp

Die bekende akteur en sanger Neil Sandilands het oor die jare groot sukses as kunstenaar en akteur behaal.

Inwoners van Mookgophong sal in Julie die geleentheid kry om die Suid-Afrikaanse legende te ontmoet wanneer hy tydens sy Neil Sandilands Gedoente-wintertoer in die dorp optree.

Sandilands is tans besig om sy nuutste musiekalbum, Allegaarkie vir ’n Askeet, te bemark as deel van sy toer wat van die Kaap tot Limpopo strek.

Die gesoute Afrikaansetelevisiekykers sal Sandilands vir sy rol as Bart Kruger in 7de Laan onthou, asook vir sy toneelspel in die Afrikaanse film Jakhalsdans in 2010.

Hy is tans op Netflix as Genl. Abbott in die fiksieprogram Sweet Tooth te sien.

Hy het sedert 2007 rolle in bekende internasionale programme soos The 100, The Flash en die mediese drama House vertolk.

Sy meer onlangse filmrolle was in News of the World saam met Tom Hanks. Sy nuutste rol is in die wetenskapfiksiefliek Kingdom of the Planet of the Apes wat eers in 2024 in teaters sal vertoon.
As musikant is sy nuutste snitte soos “Huis toe”, “Stilte wat Raas” en “Kômmôsêdiesê” baie gewild.

Sy treffer “Woestynroos” kan gehoor word in die M-Net-reeks Desert Rose.

Sandilands deel tydens sy vertonings ook staaltjies van sy kinderdae op die mynhope van Randfontein, sy reise na die eiland Kauai, Nieu-Seeland, New York, Vancouver, Sunset Boulevard en die Namibwoestyn.

Die toer skop op Saterdag 1 Julie in Onrus in die Wes-Kaap af.

Die groep sal op Dinsdag 18 Julie by die Olifant Restaurant in Mookgophong optree. Die vertoning begin om 19:00.

Elke vertoning beloof om unieke instrumente, strelende sang, blikke, baarde en sakke vol skaterlag vir die staaltjies van jeugtyd se ervarings na vore bring. Hierdie is beslis vir die fynproewer wat hou van kontemporêre Afrikaanse musiek.

Kaartjies is beskikbaar op die webtuiste www.quicket.co.za(.)

Related Articles

Back to top button