Schools

Daar is LIG in die tonnel vir die Nylies

Die nuwe sonkragstelsel wat by Hoërskool Nylstroom geïnstalleer is, sal die hoë kragrekening ’n harde hou toedien.

Dit is ook die eerste stelsel wat by die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit geregistreer is.

Volgens Anton du Plessis, skoolhoof, het die beheerliggaam reeds vyf jaar gelede begin om altenatiewe energiebronne te oorweeg as ’n teenvoeter vir die hoë kragrekening.

“Ons het sedertdien soveel moontlik inligting ingesamel en gekyk na hoe ander soortgelyke projekte werk.”

Hy het gesê hoewel die sonkrag van groot hulp is tydens beurtkrag, is dit aangepak as ’n besparingsprojek. Die skool het sowat 900 leerders en meer as 70 personeellede, asook twee koshuisgeboue.

Die nuwe sonkragstelsel is etlike weke gelede in gebruik geneem, maar is op Woensdag 21 Junie amptelik ingewy.

Volgens du Plessis het hul rekening in die eerste maand ’n 7% besparing getoon en in die tweede maand ’n 20% besparing. Die Junie-rekening wys op hierdie stadium reeds ’n groter besparing.

Die mikpunt is om hul elektrisiteitsrekening met 25 tot 30% te verminder en tot 40% van hul elektrisiteit deur sonkrag te verkry.

“Ons is baie gelukkig dat ons hierdie installasie kon doen. Daar is slegs ’n handjievol skole in die land wat toegerus is met sonkrag.”

Die projek het die installasie van negentig 545W Canadian Solar-panele, sewe water hittepompe (waarvan twee kommersiële pompe is en vyf residensiële pompe), asook vyf sonkragwarmwaterstelsels (geysers) en ’n 50kW-wisselrigter (inverter). Dit is geïntegreer met die skool se bestaande kragopwekker. Indien die son skyn en die kragopwekker gebruik moet word, sal dit slegs teen 50% van sy kapasiteit gebruik hoef te word, wat ook ’n besparing meebring.

Die installasie is deur Solarise Africa en ’n plaaslike installeerder, HP Elektries, gedoen.

Volgens Marcel Malherbe van Solarise Africa moet alle sonkrag-installasies by die plaaslike munisipaliteit geregistreer word.

“Hoewel hier talle sonkrag-installasies in die omgewing is, is nog nie een van hulle geregistreer nie. Ons het die munisipaliteit touwys gemaak in die proses en het hierdie projek as die eerste een op hul boeke geregistreer.”

Wiets Botes, voorsitter van beheerliggaam, het by navraag gesê die skool se besparing is nog groter as in ag geneem word dat die elektrisiteitstariewe met 18,5% gaan styg.

Related Articles

Back to top button