Crime

Neem korrupte metropolisie af

Span jou kamera in om korrupsie te keer.

Voorvalle van korrupsie en afpersing deur lede van die Tswhane-metropolisie (TMPD) wat motorbestuurders op die N1-snelweg vanaf Tshwane intimideer en omkoopgeld eis, duur steeds voort.

In ’n amptelike skrywe wat op Woensdag 14 Junie deur die Tshwane-metropolisie uitgereik is, word metropolisielede ingelig dat die publiek die reg het — en aangemoedig word — om te vra vir ’n aanstellingsertifikaat. Die publiek mag ook foto’s neem van die lid en sy of haar voertuig of die interaksie op video vaslê. Dit is alles om die toenemende aantal klagtes van korrupsie wat ontvang word, hok te slaan.

Die Pos het in Mei berig dat motorbestuurders op die N1-snelweg, veral tussen Hammanskraal en die Carousel-tolhek, afgetrek word deur die metropolisie. Dit gebeur glo veral as dit lyk soos jagters of boere wat moontlik wapens by hulle kan hê. Die wapens word na bewering afgeneem, al is die vuurwapenlisensies in orde, en die eienaar geïntimideer om omkoopgeld te betaal.

’n Inwoner van Modimolle, wat anoniem wil bly, is ook die afgelope week deur metropolisielede afgetrek en geïntimideer. Sy laerskoolseun was saam met hom in die voertuig.

“Nadat ek van die pad afgetrek het, het hulle vir my gevra of ek iets onwettigs by my het. Ek het ‘nee’ geantwoord, maar hulle wou die voertuig deursoek. Ek het gesê dat my vuurwapen onder my sitplek is en dat die lisensie in orde is. Die oomblik toe ek uitklim, het hulle gesê dat ek my vuurwapen onbewaak gelaat het en hulle het dit gevat.”

Volgens die inwoner het hy sy prokureur gebel. Die metropolisielede wou hom in hul voertuig laai, maar hy het vasgeskop en gesê hy het sy kind by hom.

“Hulle het vir my gesê dat ek arrogant is omdat ek nie wou saamwerk nie. Ek het beslis die indruk gekry dat hulle geld by my wou hê.”

Hulle het hom ná ’n tyd laat gaan.

Die professionele jagtersvereniging (Phasa) en die nasionale jag- en sportskietvereniging (Natshoot) het hul lede in kennis gestel van die amptelike skrywe en mense aangemoedig om die metropolisielede af te neem.

Cilliers Brink, uitvoerende burgemeester van Tshwane, het die amptelike skrywe gesteun en motoriste aangemoedig om metropolisielede af te neem indien hulle gekonfronteer word of omkoopgeld geëis word. Dit kan tot almal se voordeel wees, het hy gesê, omdat daar ook hardwerkende en eerlike lede is wat vals beskuldig word. Diegene wat skuldig is, sal aan die pen ry.

Brink het gesê dat die metropolisie ’n kriminele ondersoek geloods het nadat vyf lede buite hul gebiede gewerk het en glo mense afgepers en beroof het.

Volgens Brink is daar drie maniere waarop inwoners klagtes kan lê. Hulle kan ’n kriminele saak by die naaste polisiekantoor open, of die saak rapporteer aan die TMPD se integriteitseenheid op tel. 083 657 2998 en/of tmpdcomplaints@tshwane.gov.za. Die saak kan ook aangemeld word by die onafhanklike polisie-direktoraat (IPID) deur ’n e-pos te stuur na complaints.gauteng@ipid.gov.za(.)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button