Local news

Digbundel bederf met wense en verse

Woorde het die manier om tot in mense se harte te dring.

Dit was maar een van die redes waarom Elma van den Berg, oud-onderwyser van Bela-Bela, net nie anders kon as om weer ’n digbundel uit te bring nie.

“Woorde het my van kleinsaf bekoor, want met woorde het ’n mens die wonderlike vermoë om prentjies te skilder.”

Van den Berg is ’n bekende in plaaslike onderwyskringe. Sy het vir 12 jaar lank (vanaf 2000) remediëringsonderrig by Laerskool Warmbad gedoen.

“Onderwys is steeds vir my sielsbevredigend, want om ’n verskil in ’n kind se lewe te maak is verrykend,” sê sy.

Sy het sedertdien na Johannesburg verhuis waar sy ’n loopbaan as skrywer voortsit.

Sy vertel aan Die Pos dat sy in 2020 ’n digbundel met verskillende onderwerpe begin skryf het met toepaslike Bybelaanhalings, oordenkings en gebede. Vanjaar — ná ure lange redigering — voel sy uiteindelik gerus om die bundel die lig te laat sien.

Van den Berg het in haar gedigte op gelukwense, inspirasie en vertroosting gefokus. Mense sal veral tydens lewensvieringe en spesiale geleenthede by die verse aanklank vind.

“Ek noem dit ’n gebruiksmiddel, daarom gee ek dié bundel aan die leser uit my hart.”

Uit die skryfstukke wat sy met Die Pos gedeel het, skryf sy byvoorbeeld oor die herfsseisoen en hoe daar deur die genade van Bo weer ’n seisoen van groei en lewe sal wees. Sy maak staat op die Bybelse konteks waarmee haar gedigte verband hou. Van den Berg is baie opgewonde om ook ’n stukkie van Bela-Bela op haar digbundel se omslag te hê.

“Dit sal vir my werklik ’n voorreg wees om een van my goeie vriendinne, Tinka de Villiers, se kunswerke op die voorblad te plaas. Dit sal die essensie van die bundel uitbeeld.”

Die bundel, Wense en Verse vir jou, sal teen Augustus by plaaslike boekwinkels beskikbaar wees.

Related Articles

Back to top button