Local newsMunicipal

Honderde groet ‘Mayor Marlene’

Marlene van Staden, die burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, is verlede week te ruste gelê nadat sy op Donderdag 8 Junie oorlede is aan borskanker.

Die munisipaliteit het op Woensdag 14 Junie ’n roudiens vir haar by Castle de Wildt, buite Modimolle, gehou waar werknemers, kollegas, raadslede en ander politici van haar afskeid geneem het.

Van Staden is Vrydagoggend 16 Junie in Vaalwater langs haar vader, wat in 2016 oorlede is, te ruste gelê. ’n Gedenkdiens vir familie en vriende is daarna in Modimolle by Castle de Wildt gehou.

Etlike honderde mense het beide dienste bygewoon in ’n laaste eerbetoon.

Wit en blou ballonne is losgelaat in ’n laaste groet aan die burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit.

Die diens is deur ds. Ernst Vogt van Vaalwater gelei wat Filippense 1 as tema gebruik het: Vir my is om te leef Christus en om te sterf ’n wins.

Honderde ballonne is na afloop van die diens vrygelaat as laaste groet.

Van Staden laat haar man Hannes en twee jong seuns Luan (6) en Dian (2) agter asook haar ma Dalene Vermaak en susters Christie Vermaak en Adri Stoltz.

  • Johan Prinsloo, VF Plus-raadslid dien steeds as waarnemende burgemeester tot Van Staden se posisie gevul is. Sy is in 2021 as ’n proporsionele DA-raadslid verkies en weer as burgemeester verkies in ’n hangende munisipaliteit waar die DA, VF Plus en die EFF 14 van die 28 setels gehad het en die ANC die res.

    Sy het sedert 2016 as burgemeester van die raad gedien.

Die Pos verneem dat die proses om ’n nuwe proporsionele raadslid vir die DA aan te stel nog nie begin het nie.

Related Articles

Back to top button