Local newsMunicipal

Final farewell to beloved wife, mom, daughter, sister

Two memorial services were held last week for the late Marlene van Staden, Modimolle-Mookgophong mayor at Castle de Wildt, on the outskirts of Modimolle.

Various municipal officials, party representatives from various political parties and stakeholders echoed their respect for Van Staden’s role in the municipality since she was elected in 2016.

Rufus Mahoro, ANC regional secretary, said that Van Staden was a mayor that kept them on their toes and if anyone in local government showed laziness, she was no friend of theirs.

Ben Thobela, Municipal Manager, said she had gone out of her way in monitoring every aspect of the municipality and always sought out additional resources.

Now, with the reality of electing a new mayor creeping closer, the words of Sam Selokela, who represented the local ministries in Waterberg, are reverberating in local residents’ minds: “What now, what next and will the next mayor be as efficient as Van Staden was?”


Wynand Bekker, jarelange werknemer van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit:

’n Groot boom het geval. Marlene van Staden was ’n liefdevolle mens wat vir almal tyd gehad het. Sy was baie hardwerkend en het net haar beste gelewer — in slegte en goeie tye, dag of nag.

Sy was intelligent en het kennis gehad van alle aspekte. Sy het nooit ’n probleem as tó groot beskou nie.

Sy het diep in my hart gekruip en ek gaan baie treur oor haar. Marlene, jou plek is leeg, maar God het jou nodiger gehad.

Rus in vrede.


Hercules Louw, DA-raadslid:

Ek het sedert 2016 saam met Marlene van Staden op die munisipale raad gedien. Ek het haar leer ken as ’n bondel energie en ’n ongelooflike talentvolle mens wat nooit haar talente begrawe het nie. Sy het dit voluit gebruik en uitgeleef.

Ek sal haar onthou soos geskryf in Lied 284: “Laat Heer U vrede deur my vloei en laat ek hoop gee waar daar twyfel is. Ek wil U lig in duisternis laat skyn, laat ware vreugde altyd uit my straal.”

Wat ’n wonderlike kollega, vriendin en rolmodel vir die personeel was sy gewees.

Marlene, ek sal jou mis. Jy was ’n wenner in alles wat jy aangepak het. God het ’n mooi blom kom pluk. Jy verdien vrede en rustigheid. Tot ons mekaar weer sien.

Marita Louw, VF Plus-raadslid:

Marlene was ’n Spreuke 31-vrou, ’n deugsame vrou wie se waarde ver bo korale is, ’n vrou wat alles sou opoffer vir haar medemens. “Sterkte en eer is aan haar kleed en sy lag oor die dag wat kom. Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie.”

Die afgelope twee jaar was dit vir my ’n voorreg om saam met Marlene te werk. Sy was beslis die hardwerkendste, mees positiewe mens wat ek al ontmoet het. Sy het ’n oop deur gehad en jou altyd goed ontvang. Sy het altyd tyd gemaak vir my, al beteken dit ’n laataand Whatsapp-geselsie of oproepe.

Ek het baie lekker saam met haar gewerk. Ons kon probleme en uitdagings saam uitstryk al het ons menings soms verskil. Sy het altyd haar beste gegee, al was dit ten koste van haarself. Sy was en sal onthou word vir haar energieke, passievolle menswees. Dit was aansteeklik.

Jy het diep spore agtergelaat. Ons sal jou nooit vergeet nie.


Antoinette Wagener, DA-raadslid, Mookgophong:

Marlene, ek het jou vir die eerste keer in 2016 ontmoet en het dadelik besef jy is ’n ystervrou.

Ek het in 2021 die voorreg gehad om saam met jou in die DA te kon dien. Ek was ’n moederfiguur en jy die voorloper, die raakvatter, die sterk leier en male sonder tal die wyse politikus. Jy was onwrikbaar in wat jy geglo het en het nooit verskoning gesoek vir dit wat verkeerd was nie. Daar was nooit pretensies by jou nie. Jou beskikbaarheid was werklik 24/7.

Dit herinner my aan een aand lank ná 22:00 toe ek moes bel om ’n probleem op te los. Ek kon hoor jy borsvoed jou seuntjie terwyl jy al die antwoorde gee wat ek nodig gehad het.

Ek onthou hoe jy sommer so in die gange van die munisipaliteit met almal kon praat, lag en soms laf met hulle kon dans. Ek onthou hoe jy ’n raadslid teen grappe beskerm het. Ek onthou hoedat jy altyd honger was! Jou positiewe gesindheid se gelyke sal ek nooit weer hier op aarde kry nie. Jy het nooit onderskei tussen ras, kleur rykdom of armoede nie. Jou strewe na dienslewering het baie groot manne die harnas in gejaag en oorskadu.

Jy het ’n leemte in ons harte gelos, maar soos wat Steven Modimola, jou motorbestuurder vir my sê: “Gogo, we must push forward to make Marlene proud. She will be watching us.”

Rus in vrede, jy was ’n fenomenale vrou.


Henk van de Graaf, streekvoorsitter TLU en voorsitter Waterberg DLU, skryf:

TLU SA se Noordstreek, asook die Waterberg DLU en die Potgietersrus DLU, wat prominente bedienings areas was waar Marlene van Staden betrokke was, het met leedwese kennis geneem van haar voortydige afsterwe en haar naasbestaandes word alle meegevoel en sterkte toegewens met die enorme verlies wat hulle gely het.

Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus DLU, het ook hulde aan Marlene, soos sy algemeen bekend was, gebring.

“Sy was ’n besonder dapper vrou wat haar nie deur haar siekte laat onderkry het nie en steeds ’n diens aan haar gemeenskap gelewer. Sy was ’n lewenslustige vrou en het altyd haar moeilike taak met ywer aangepak. Sy het ons beslis, menslik gesproke, voortydig verlaat. As iemand wat self die plaaslewe intensief beleef het, het sy deurentyd ’n passie vir landbou gehad en haar deur was oop vir georganiseerde landbou. Ons het as landbou-unie op verskeie vlakke hartlik met haar saamgewerk, juis daarom is haar heengaan ’n verlies vir landbou in die Waterberg en omliggende gebiede wat sy as burgemeester gedien het. Ons hoop dat die goeie werk wat sy met passie begin het deur haar opvolger voortgesit sal word.”

Related Articles

Back to top button