Local sport

Laerskool Nylstroom maak skoonskip

Nie net een nie, maar twee van Laerskool Nylstroom se rugbyspanne het die afgelope week met die trofeë as Limpopo-kampioene in die mediumskole-kategorie weggestap.

Die semi-finale en finale is op Woensdag 14 Junie by Hoërskool Pietersburg gespeel.

Vier van die skool se spanne het deurgedring na die semi-finale rondes.

“Die o.9- en o.11-seuns het werklik baie mooi rugby gespeel en hulle staal tot op die einde gewys. Hulle moes ongelukkig as verloorders uit die stryd tree, maar in Laerskool Nylstroom se oë is hulle wenners,” het die onderhoof, Handri van der Merwe, gesê.

Die tweede rugbyspan het hul semi-finale ronde teen Laerskool Messina gewen en deurgedring na die finaal waar hulle teen Laerskool Phalaborwa te staan gekom het. “Die halftydtelling was 5-5. Ons tweede span het briljante rugby gespeel tydens die tweede helfte en die wedstryd met ’n telling van 22-5 gewen. Seuns, julle was ysters. Baie geluk met ’n puik prestasie,” het Van der Merwe gesê.

Laerskool Nylstroom se tweede rugbyspan is baie trots daarop dat hulle met die beker as Limpopo-wenners kon wegstap.

Die eerste span het ook teen Laerskool Messina in die semi-finaal gespeel en gewen. Hulle het Phalaborwa in die finaal ontmoet.

“Die eerste span het hul goeie vorm behou wat hulle deur die seisoen gehandhaaf het. Die seuns het van die afskop af klipharde rugby gespeel en is beloon met ’n pragtige wentelling van 38-12 in die finaal. Seuns julle was voorwaar ambassadeurs van Laerskool Nylstroom en die Nylies is baie trots op julle.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button