Letters

Brief: Winkende koeltemense is waardevol

Wat sou ons sonder koeltes in ons lewe doen?

Santie Gildenhuys, Modimolle, skryf:

“Die waarde van die koelte is in die warm son rondom hom”, het die bekende volksdigter en -skrywer C.J. Langenhoven destyds geskryf.

(Oom) Sagmoedige Neelsie, ek weet presies waarvan jy praat. Ons het net verlede week ’n uitdagende staproete van 3,45 km by ’n vakansieoord buite Modimolle aangedurf. En al was die amper-wintersonnetjie gelukkig nie skroeiend warm nie, was die klim — watwou stap! — nogal rof.

Twee keer moes ons die uitnodigende koelte van ’n opgeskote kierieklapper en ’n nie-vyandelike haak-en-steek-bos opsoek. Elkeen op sy klip, vrugtesap in die hand.

Die ervaring het my opnuut laat dink. Wat sou ons sonder koeltes in ons lewe doen? Dalk het ons dan ook so alleen soos Amanda Strydom gevoel:

“Ek loop die pad so sonder hoed, deur son en wind en grou.”

Sodra jy jou koelte of skadukol verlaat, is ’n mens uitgelewer aan sovele bedreigende faktore. En al pantser jy jouself met die grootste wyerandhoed en al smeer jy jouself tóé met die hoogste faktor UV-straalbestande sonbrandroom, bly die aanslag genadeloos.

Jy begin ’n idee kry van hoe desperaat en senuagtig Tennessee Williams se simboliese kat in die kontroversiële verhoogstuk “Cat on a Hot Tin Roof” moes voel. (So lank ons net betyds afspring. En hopelik hou ons nege lewens nog!)

Behoede die dag as ons een van daardie houtgeruste paddatjies is wat nie agtergekom het dat die water in die houer al amper kookpunt bereik het nie.

Male sonder tal kom jy dan tot die besef: Goddank vir skaduryke mense in ons warboellewens. Mense wat gerusstellende beloftes maak soos hierdie uit ’n lied van Juanita du Plessis:

“En sou die strale van die son jou spore dof maak, sal ek koelte gee.”

Ons moet net onthou om op die uitkyk te bly vir daardie winkende koeltemense wat geredelik vir jou ’n plekkie in hul kalmerende skadu bied.

Een so ’n baie spesiale groep mense is ons sorgsame pa’s. Elke man wat onwrikbaar tientalle elemente trotseer om ’n skadu-oase aan sy gesin, familie, vriend en vreemdeling te bied.

Met Vadersdag vanjaar is ons gebed opnuut: mag God elkeen van u seën in sy spesifieke taak, want die waarde van u koelte is onskatbaar.

Mag ons, bo alles, vashou aan God se versekering in Ps 91:1-2:

“Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige.”

Related Articles

Back to top button