Crime

Kitsbankontploffing-verdagte gevonnis

Die Mokopane-streekhof het op Woensdag 24 Mei ’n verdagte tot 18 jaar tronkstraf gevonnis as ’n medepligtige tydens ’n rooftog in die Moletlane-gebied.

Luidens ’n polisieverklaring was die beskuldigde, Bushy Vincent Kekana (40), reeds in 2018 uit op parool nadat hy tronkstraf uitgedien het vir sakeroof, moord en die besit van ’n onwettige vuurwapen. Sy aanvanklike 20 jaar-vonnis vir die misdrywe sou in 2028 geëindig het.

Volgens die polisie het Kekana in September 2021 ’n rol gespeel tydens ’n rooftog in Moletlane waar ’n kitsbank opgeblaas is.

Drie maande ná die voorval is hy deur lede van die provinsiale spoorsny-eenheid van Lebowakgomo opgespoor en in hegtenis geneem.

Die polisie het ’n onwettige vuurwapen, ammunisie en kontant wat met ink besmet is in sy besit gevind. Die ondersoekbeampte in die saak was AO Phaladi Makola.

Die hof het Kekana skuldig bevind op aanklag van die besit van die vuurwapen, die rig van ’n vuurwapen en die besit van ammunisie.

Sy parool van 2018 is ook opgeskort. Hy sal dus die volle vonnis, saam met die nuwe 18 jaar vonnis, uitdien.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button