Letters

Brief: Tariefverhogings nie in voeling met ekonomiese uitdagings

Ons is nie gekant teen tariefverhogings nie, maar dan moet dit billik wees en die huidige ekonomiese klimaat en inwoners se finansiële posisie in ag neem.

Elita Wiid, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -raadslid: Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit, skryf:

Die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit (Mokopane) is uit voeling met die ekonomiese uitdagings van sy inwoners en sake-ondernemings.

Dit blyk duidelik uit die munisipaliteit se finale konsepbegroting vir die 2023/24-boekjaar wat ter tafel gelê is en waarin verhoogde tariewe vir water, sanitasie, vullisverwydering en elektrisiteit aangekondig is.

Die mees onbillike tariefverhoging wat belastingbetalers veral sal ontstel, is die watertarief wat met ’n buitensporige 46,3% styg.

Dié verhoging is voorgestel deur die staatsentiteit wat water verskaf aan die munisipaliteit, Lepelle Northern Water (LNW).

Daar was ’n geleentheid vir inwoners om kapsie teen die begroting te maak tydens openbare vergaderings waar die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) bespreek is.

Die VF Plus sou graag wou sien dat meer inwoners by hierdie vergaderings teenwoordig is.

Inwoners van Mogalakwena (Mokopane) gaan daagliks gebuk onder watertekorte weens kragonderbrekings wat LNW se bedrywighede by pompstasies, soos die een by Doorndraaidam, gereeld knou.

Hierdie bedrywighede behoort van die nasionale netwerk verwyder te word om sodoende inwoners se reg tot voldoende watervoorsiening, te onderhou.

Die munisipaliteit is tans verantwoordelik vir die kragtoevoer na die Doorndraaidam, maar dit is kommerwekkend dat LNW nie alternatiewe kragopwekking in plek het in tye van nood nie.

Die VF Plus wil sien dat daar ’n strategiese plan in samewerking met LNW in plek is aangesien belastingbetalers reeds vir hierdie dienste betaal.

Verdere voorgestelde tariefverhogings is soos volg: eiendomsbelasting (5,3%), sanitasie (5,3%) en vullisverwydering (5,3%).

Die munisipaliteit stel hierdie verhogings in teen die agtergrond van swak dienslewering en die algemene verval van infrastruktuur. Daarom het die VF Plus daarteen gestem.

Die party is nie gekant teen tariefverhogings nie, maar dan moet dit billik wees en die huidige ekonomiese klimaat en inwoners se finansiële posisie in ag neem. Mogalakwena (Mokopane) verdien beter as die ANC.

Related Articles

Back to top button