Local sport

Waterbergers reg vir Comrades

’n Groep Waterberg-atlete neem weer op Sondag 11 Junie hul plek in by die beginpunt vir die jaarlikse Comrades- marathon in KwaZulu Natal.

Die atlete uit Die Pos se lesersgebied het die afgelope jaar hard gewerk in hul voorbereiding vir vanjaar se wedloop en om die kwalifiserende tye te behaal.

Die wedren begin Sondag om 05:30 voor die stadsaal in Pietermaritzburg. Volgens die Comrades webtuiste is vanjaar ’n af-wedloop en meer as 20 000 inskrywings is ontvang om die strawwe 87,7 km na Durban af te lê.

Atlete moet sekere afsnypunte binne gegewe tye bereik ten einde die wedloop te voltooi. In die verlede was Lynnfield Park ’n baken afsnypunt gewees. Padwerke het die organiseerders genoop om die roete te verander.

Atlete moet die eerste 30,3 km hardloop en teen 10:00 verby Cato Ridge wees. Die afsnypunte vandaar is Drummond (om 11:40), Winston Park (13:40), Pinetown (14:50) en Sherwood (16:30).

Die finale afsnytyd vir atlete om die wenstreep te haal is om 17:30.

Sover bevestig kan word is daar drie atlete van Bela-Bela wat gaan deelneem.

Een van hulle is Tjaart Oosthuizen (jnr.) wat sy sewende Comrades gaan aandurf. “Ek is rustig oor hierdie jaar se wedloop. My voorbereiding het goed verloop en glo ek sal die wedloop voltooi,” het hy gesê.

Altesame 13 atlete van die Potties Atletiekklub in Mokopane gaan die Comrades hardloop. Sarie Coetzee gaan die moordende marathon vir die 25ste keer aanpak.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button