Local news

Bela-Bela se Phodi Clinic word glo verkoop

Die perseel waarop die beleërde Phodi Clinic in Bela-Bela is, gaan glo verkoop word.

Dié privaat hospitaal het in Mei 2022 sy deure gesluit nadat die hospitaal se bedryfslisensie nie weer toegeken is nie. Personeel het maande nadat die hospitaal gesluit is eers by hul vakbondverteenwoordigers gehoor dat hulle afgelê is. African Health Care (AHC) het die hospitaal bestuur.

Sedertdien het die perseel vervalle geraak en is dit ook geteiken deur stropers wat die gebou geplunder het. Inwoners van die nabygeleë Caritas-aftreeoord het aan Die Pos gesê dat hulle ook deurloop en dat die hospitaal, wat sonder enige sekuriteit gelaat is, hul veiligheid in gedrang bring. Plaaslike veiligheidsrolspelers het op eie koste patrollie gery om moontlike plunderaars af te skrik.

Die Pos het twee weke gelede berig van ’n verdagte wat met doktersbriewe, voorskrifte en medikasie betrap is wat hy glo by die Phodi Clinic gesteel het. Die verdagte het egter uit polisie-aanhouding ontsnap en word steeds gesoek.

“Ons dra kennis daarvan dat beleggers na vore gekom het om die perseel te koop,” sê Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid.

Hy sê ná herhaalde pogings is daar, in samewerking met lede van die Wyk 1-komitee, met AHC ooreengekom om alle toerusting in die hospitaal te verwyder.

Daar is ook ’n veiligheidsmaatskappy aangestel om 24-uur sekuriteitsdiens te lewer.

Die Pos het AHC vir kommentaar genader oor die hospitaal se toekoms, maar het geen terugvoer ontvang nie.

“Ek dra kennis van twee beleggers wat na vore gekom het. Daar bestaan ’n sterk moontlikheid dat die perseel nie weer in ’n hospitaal omskep sal word nie. Ek sal die publiek dadelik in kennis stel van die verwikkelinge sodra ons meer weet,” het Cloete gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button