Local news

Bobaaskok kry erelidmaatskap van VLU

Die outeur van verskeie kookboeke, Joey Pienaar, is onlangs deur die Vroue Landbou-unie (VLU) se Nylstroomtak met erelidmaatskap vereer.

Pienaar se wydgelese boek, Knuppeldik aan Koningskos, is ’n staatmaker in kombuise regoor die land en daar is reeds meer as 230 000 eksemplare verkoop.

Die tak het Pienaar (85), wat in Modimolle woon, op Dinsdag 16 Mei vereer. Tydens die VLU-Noord se jaarlikse kongres op Donderdag 4 Mei het sy ook ’n toekenning ontvang omdat sy al 30 jaar lank lid van die VLU is.

Pienaar is steeds fluks in die kombuis waar sy worsrolletjies en allerlei lekkernye maak om te verkoop.

“Deel jou kennis en ondervinding,” is een van haar leuses.

En sy het soveel kombuiskennis om te deel! Sy het reeds in 1980 by die VLU se Queenswoodtak in Pretoria aangesluit waar sy haar vaardighede geslyp het deur kursusse in gebak, die maak van lekkers en masjienwerk gedoen het.

Haar vernuf in die kombuis het haar drie jaar opeenvolgend (1980 tot 1983) die trofee vir gebak, preservering en lekkers by die destydse Pretoria Skou besorg. Sy het haar beoordelaarsdiploma in preservering, gebak en die maak van lekkers in 1985 verwerf.

Die Pienaar-gesin het die stadslewe in 2000 vir die plaas verruil waar sy het met boerbokke in die Alldays-omgewing geboer het. Sy het jare lank by hierdie VLU-tak beoordeling behartig en was ook later voorsitter.

Die egpaar het hulle in 2006 in Modimolle gevestig waar sy natuurlik gou by die plaaslike VLU-tak aangemeld het. Benewens as beoordelaar optree, het sy verskeie kos- en gebakdemonstrasies vir talle organisasies aangebied.

Sy het vier resepteboeke uitgegee waarvan die laaste een Dis Mos Kos in 2012 verskyn het. Die plaaslike VLU-tak is baie trots op hierdie ywerige lid wat haar kennis met soveel mense deel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button