Letters

Brief: Munisipale bestuursvermoë kom kort

Dit verstom my dat 30 jaar van bewind nie genoeg tyd was om goeie munisipale werkers op te lewer nie. Voor 1994 is geen dorp of stad in die land só swak bestuur nie.

Anoniem, Bela-Bela, skryf:

Ons is nuwelinge in die dorp en die swak munisipale dienslewering is dieselfde as elders in die land.

Ek weet die dorp was eens ’n spogplek, maar dit lyk nou afgerem. Ek sê dit met gedagte aan die maande oue slaggate en dooie palmbome in Kwaggaweg wat die munisipale amptenare nie pla nie.

Dit verstom my dat 30 jaar van bewind nie genoeg tyd was om goeie munisipale werkers op te lewer nie. Voor 1994 is geen dorp of stad in die land só swak bestuur nie.

In die deel van ons dorp waar ons woon, betaal almal klokslag elke maand hul munisipale rekeninge ten volle. Die daar-is-nie-geld-nie-verskoning werk nie meer vir ons nie.

Die meeste basiese dienslewering verg nie duur gereedskap en materiaal nie. Die werknemers kry getrou elke maand hul vergoeding al het hulle nie dienste in stand gehou nie. Dit is belaglik om slaggate met grond toe te gooi en daarvoor word ’n bakkie met vyf werkers heeldag besig gehou.

Hoe die paaie gemerk word, is ’n ander tameletjie. Verf tog minstens gereeld wit strepe op die talle spoedwalle en by straatkruisings.

Die gesteelde straatnaamborde moet vervang word.

Ek stel voor dat die straatname met groot letters teen tuinmure en hoog teen geboue op hoekerwe of op groot rotse op sypaadjies op straathoeke geverf word.

Dankie aan die kontrakteurs wat tans besig is om slaggate plek-plek in die dorp te herstel.

Ek dink wat ernstig kortkom in ons dorp, is munisipale bestuursvermoë. Dit omsluit ander vaardighede soos beplanning, finansiële bestuur, kontrole, onderhoud en common sense.

Wie wil, dié kan.

Related Articles

Back to top button