Local news

Nuwe baadjie vir Bela-Bela se strate

Van der Merwestraat in Bela-Bela was die afgelope naweek ’n miernes van bedrywigheid toe kontrakteurs van die Limpopo-padagentskap (RAL) met groot ingenieurstoerusting die padoppervlakte opgelig en verwyder het.

Die kontrakteur en werkers was Maandag weer vroeg op hul pos en het die pad gereed gemaak vir ’n nuwe teerlaag. Die flukse werkers het tot in die vroeë oggendure gewerk en inwoners van Van der Merwestraat kon Dinsdagoggend nie hul oë glo toe die een rybaan met ’n nuwe teerlaag spog nie.

Inwoners was verder verheug toe die kontrakteur Dinsdag in Lunaweg begin werk het. Dit is die straat in Bela-Bela waaroor inwoners die meeste kla. Dit sal vir motorryers ’n heerlike ervaring wees om in Lunaweg te ry sonder om te koes vir die slaggate wat slote geword het.

Die beloofde padopgraderingsprojek in die Bela-Bela-omgewing kon nie op ’n meer welkome tydstip gekom het nie.

RAL is hard aan die werk in die dorp nadat ’n ooreenkoms tussen hulle en die munisipaliteit aangegaan is om te help om slaggate in die dorpsgebied te herstel.

Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid, het vroeër gesê die paaie waarop RAL sal fokus, sluit in Meininger- en Flamboyantstraat, Heuwellaan, Lunaweg, Hospitaalstraat, Pretoriaweg, Kretzschmarlaan, asook Van der Merwe-, Gilfillan en De Beerstraat.

Die ooreenkoms bepaal dat slaggate herstel sal word en dat sekere paaie se padoppervlaktes oorgedoen sal word, het Cloete gesê.

Enige ander opgraderingswerk rus steeds op die munisipaliteit se skouers.

Verskeie strate se slaggate, wat tydelik deur die munisipaliteit met grond opgevul is, het die afgelope maand weens harde reënbuie weer oopgespoel.

Cloete het by navraag gesê RAL het ook vandeesmaand deeglike werk in die buurdorp Modimolle se strate verrig.

Inwoners van dié dorp glimlag breed nadat hul strate ná maande se beloftes herstel is.

RAL-werkers het op Dinsdag 25 April in Bela-Bela begin om slaggate uit te meet en voorbereidingswerk is gedoen.

Teen druktyd vandeesweek was die werk oral in die dorp in volle swang. Inwoners wat die afgelope ruk gekla het dat die munisipaliteit net grond in die gate gooi omdat hulle wag op ’n groot vrag teer, is gerus gestel dat die instandhoudingswerk nou kan begin.

“Ek hou die situasie al geruime tyd baie fyn dop en sal deeglike terugvoer aan inwoners gee oor die vordering van die projek,” het Cloete gesê.

  • Die langverwagte padopgradering van die R101-pad tussen Bela-Bela en Modimolle is ook tans op die agenda.

    Die projek word deur die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) bestuur.

    Dit sluit in die roetes vanaf Tooyspruit buite Thabazimbi na Bela-Bela, Bela-Bela na Modimolle en Modimolle na Vaalwater.

    Volgens die nuutste munisipale raadsdokument sal die tender vir die padkonstruksie vanaf Bela-Bela hierdie maand sluit. Konstruksie aan die pad sal na verwagting in 2024 begin en 48 maande duur.

    Die padprojek beloop R700 miljoen.

    Sanral-verteenwoordigers het bekendgemaak dat hulle onder meer Rooibergweg, Chris Haniweg en ’n gedeelte van Potgieterlaan sal opgradeer. Dit sluit in die opgradering van die verkeersirkel en vervanging van straatligte in Chris Haniweg.

Related Articles

Back to top button