Local news

Limpopo ‘veilig’, al styg cholera-gevalle

Hoewel verskeie pasiënte van Hammanskraal die afgelope week aan cholera gesterf het, beteken dit nie dat inwoners van Limpopo in vrees moet leef nie.

Die departement van gesondheid het op Maandag 23 Mei bevestig dat daar ’n cholera-uitbraak in die omgewing is. Teen druktyd het 15 mense reeds gesterf weens dié hoogs aansteeklike ingewandesiekte.

Inwoners van Hammanskraal is aangeraai om nie kraanwater te drink totdat die oorsprong en besmette waterpunte vasgestel is nie.

Luidens ’n verklaring van die Tshwane-munisipaliteit het die owerhede vasgestel dat die uitbraak hoofsaaklik in die Moretele-omgewing van Hammanskraal gesentreer is. Daar was teen druktyd reeds 100 pasiënte in die Jubilee-hospitaal in die omgewing opgeneem met choleraverwante simptome.

Die owerheid het gewaarsku dat inwoners nie by riviere moet water skep nie en kerkgroepe moet ook nie nou doopseremonies in dié riviere hou nie.

Die Tshwane-munisipaliteit het watertenkers na die gebied gestuur met drinkwater vir inwoners. Inwoners is ook gemaan om water te kook en te sorg dat hul kanne waarin water gedra word, ontsmet is.

Die Pos het deur Thilivali Muavha en Neil Shikwambane van die provinsiale departement van gesondheid se kommunikasie-afdeling bevestig dat daar teen druktyd geen choleragevalle in Limpopo was nie, ten spyte van gerugte dat daar in die Vhembe-distrik ’n geval aangemeld is.

Shikwambane rig die waarskuwing aan inwoners van Pienaarsrivier en Bela-Bela om uiters versigtig te wees aangesien Moretele die naaste nedersetting aan dié dorpe is.

Mediese spanne van die departement is in die Bela-Bela-omgewing ontplooi om op bystand te wees indien positiewe gevalle aangemeld word, sê Shikwambane.

Die choleravirus veroorsaak erge diarree, braking en dehidrasie. Mediese behandeling is noodsaaklik. Indien pasiënte nie vinnig behandel word nie, kan hulle sterf.

Volgens die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (NIOS) is mense geneig om die simptome self te behandel en nie dadelik mediese hulp te soek nie. Hulle nader eers die dokter of hospitaal as hulle reeds begin dehidreer.

Navorsing toon dat die virus vir tot 14 dae deur die pasiënt uitgeskei kan word.

Indien iemand in aanraking daarmee kom, kan hulle siek word, sê die NIOS. Die departement raai dus almal aan om gereeld hul hande te was en voedsel met sorg te hanteer om besmetting te voorkom.

Die Tshwane-munisipaliteit het in ’n opvolgverklaring gesê die meeste watertoetse toon tot dusver geen bakterieë in die omgewing se kraanwater nie.

Dit beteken egter nie dat mense moet ophou om gesuiwerde water te gebruik nie.

In Bela-Bela het Peter Moloto, munisipale woordvoerder, asook Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid, die afgelope week aangedui dat die dorp se drinkwater steeds veilig is vir gebruik, soos bevestig deur die mees onlangse watertoetse wat maandeliks gedoen word.

Die toetse word deur geakkrediteerde rolspelers van die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (Sanas) uitgevoer.

Cloete sê inwoners moet aanhou om verantwoordelik te wees en higiëniese stappe te neem om die uitbraak vry te spring.

Dr. Nicola Havemann, plaaslike algemene praktisyn, het by navraag aan Die Pos gesê daar is geen middel beskikbaar wat as voorkomende medikasie kan dien nie, behalwe tablette wat water kan suiwer.

“Indien mense diarree ontwikkel, is die eerste stap om genoeg vloeistowwe te drink en die nodige medikasie te neem.

Related Articles

Back to top button