Local news

Huismoeder groet kinderhuis ná jare

Christa Hoffmann se arms het bykans 28 jaar lank wyd oopgestaan vir die tientalle kleuters en jong kinders vir wie sy ma gespeel het.

Haar tyd as huisouer en senior kinderversorger by die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle kom einde Mei tot ’n einde. Dit het tyd geword vir haar om af te tree.

“Hierdie is beslis die moeilikste werk op aarde, maar ook die vervullendste,” vertel sy terwyl ons onder die groot bome, wat in hul herfsdrag op die kinderhuis se terrein staan, sit en gesels.

In die verte lag die kinders.

Sy het op 1 Augustus 1995 as huisouer by Maroelahuis begin werk.

“Ek was ’n kleuterskoolonderwyser in Pretoria en het remediërende onderwys gestudeer. My man het in ’n stadium in die Laeveld gewerk en toe ’n boer ’n groot klomp papajas wou weggooi, het hy gevra of dit nie eerder geskenk kon word nie.”

Sam Hoffmann, haar man, was jare lank bekend as fotograaf in die dorp. Hulle pad saam met kinderhuise het op dié wyse begin.

“Vriende van ons wou daarna ’n paar kinders gedurende ’n vakansie bederf en ons het op dié manier betrokke geraak by die kinderhuis. Hennie du Toit, wat in daardie stadium onderhoof was, het ons ná die vakansie gevra of ons nie belangstel om huisouers te word nie.”

Huisouers het ’n wooneenheid wat deel is van die huis wat hulle bestuur.

“In daardie stadium was huisouers elke tweede naweek af. Ons het tussen 12 en 16 kinders tussen die ouderdomme van twee en sewe jaar versorg. Toe ek net begin het, was dit vir my ’n bitter groot uitdaging, maar mettertyd leer ’n mens elke kindjie ken. Jy weet hoe klink hulle huil en al hul maniertjies. Ek onthou dit was nogal ’n groot uitdaging om alleen badkamer toe te gaan!”

Die kinders wat op so jong ouderdom in die kinderhuis geplaas is, se omstandighede was dikwels ontstellend.

“Vir my was die grootste kompliment wanneer ’n kind wat so min het, bereid was om iets met my te deel — al was dit net lekkergoed. Of in een geval waar ’n meisie deur baie groot trauma was, my toegelaat het om saam met haar dokter toe te gaan.”

Sy onthou van nagte om bid dat die son moet opkom wanneer sy sukkel met ’n kind wat koors het.

“As die son skyn, kon ’n mens darem vir raad vra en by ’n dokter uitkom. Alles lyk dan sommer weer beter.”

Die huisouer is verantwoordelik vir alle kinderversorging; ook wanneer ’n kind probleme by die skool het.

Hoeveel van hierdie kinders is steeds deel van haar lewe? Sy glimlag, maar daar is ’n tikkie hartseer by.

“’n Mens kan hulle nie vashou nie. Jy speel ’n belangrike rol vir ’n klein deeltjie van hul lewens. In ’n stadium skuif hulle oor na een van die groter huise en hulle is opgewonde daaroor, want dit is vir hulle ’n groot mylpaal. Ek aanvaar altyd as hulle vir my vriendversoeke op Facebook stuur, maar sal nie self uitreik na hulle toe nie. Hulle het aanbeweeg. Dit is so ’n groot vreugde as ’n mens hoor dat hulle goed vaar in die wêreld daarbuite, maar ek is hartseer wanneer die nuus minder goed is.”

Christa het onlangs vir die eerste keer ouma geword. Ná haar aftrede verhuis sy na Shelley Beach om naby haar dogter, Mareli Malan, te woon.

“Ek sien uit daarna om tyd saam met my kleinseun deur te bring. Ek is nog nie reg vir stilsit nie en gaan beslis weer vir my iets kry om te doen daar.”

Dit is vir haar moeilik om haar kollegas te groet.

“Ons is so na aan mekaar — in die moeilike tye, maar ook in al die lawwe tye. Dit was ’n lekker span om mee saam te werk. Ek het by die kinderhuis en die kinders soveel meer ontvang as wat ek ooit gegee het,” sê sy.

“Die kinderhuis is nie ons plek nie. Dit is groter as ons almal. Lank nadat ons weg is, gaan Abraham Kriel-kinderhuis voortgaan om na kinders om te sien.”

Related Articles

Back to top button