Local newsMunicipal

Nie eens kanker kan dié burgemeester onderkry

Kankervry!

Dié stukkie goeie nuus het talle inwoners van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit onkant gevang.

Min was bewus van die taai kankerstryd waarin die kanniedood-burgemeester, Marlene van Staden, stilletjies gewikkel was terwyl sy die munisipaliteit se talle uitdagings aangepak het.

Die Pos is al geruime tyd bewus van dié slegte nuus, maar het op versoek van Van Staden nie daaroor berig nie. Die Pos se personeellede het ’n baie sagte plekkie vir dié voormalige verslagge-
wer van ons Vaalwater-kantoor wat destyds onverwags ’n DA-raadslid en daarna burgemeester geword het.

Van Staden het in April verlede jaar ’n knop in haar bors ontdek. Hoewel dokters aanvanklik gemeen het dit is dalk ’n newe-effek van die Covid 19-inenting, het dr. Yda Jordaan van Modimolle haar verwys na ’n spesialis nadat sy verdere simptome begin ervaar het. In September het sy die skokkende nuus gekry dat sy fase vier borskanker het. Ná sestien sessies chemoterapie, wat sy tussen haar werksverpligtinge ingewerk het, het sy op Woensdag 19 April ’n dubbele mastektomie ondergaan.

Van Staden was die afgelope week wéér in die hospitaal nadat sy op Woensdag 17 Mei in die Polokwane MediClinic se hoësorg-eenheid opgeneem is met virale breinvliesontsteking
(meningitis).

“Waar dít vandaan gekom het, weet ek nie. Ek het 10 dae lank die verskriklikste hoofpyn gehad. Ek het die dokters gevra om te toets, want ek wil weet wat fout is. Ek het gelees dit kan dalk kankerverwant wees of ’n effek van die chemoterapie. Ek het ernstig met die dokters gepraat en vir hulle gesê teen Vrydagoggend moet ek hier uit wees,” het sy Maandag aan Die Pos gesê.

Ten spyte van die uitdagings met haar gesondheid, lig sy nie haar voet van die petrolpedaal nie. Sy het haar beskikbaar gestel as kandidaat om op Saterdag 27 Mei as provinsiale leier tydens die

DA se kongres in Polokwane verkies te word.

“Ek het Vrydagaand ’n funksie en gaan Saterdag by die konferensie wees waar elkeen van die kandidate ’n toespraak moet lewer,” het sy vasberade laat hoor.

Die ander kandidate vir die posisie is Nico Pienaar, voormalige burgemeester van Lephalale, Beyers Smit DA-LP van Mokopane, Lindy Wilson DA-LP en Motlatjo Thetjeng, DA-lid (albei van Polokwane).

Hoekom het sy die nuus nou eers bekend gemaak?

“Ek wou nie gehad het mense moet moed verloor nie. Ek was bekommerd dat hulle sou moed opgee indien hulle hoor ek het kanker. Ek wou eers seker maak al my toetse is skoon voordat ek die nuus bekend maak.”

Van Staden vertel dat sy ná die uitslag só geskok was dat sy twee maande lank nie die woord kanker hardop kon sê nie.

Dit is nie Van Staden se eerste ronde waar sy haar werk gedoen kry te midde van moeilike omstandighede nie. Sy is in 2016 onverwags as burgemeester verkies nadat die ANC vir die eerste keer minder as 50% van die stemme in die munisipale verkiesings gekry het en die DA, VF Plus en die EFF ’n samewerkingsooreenkoms aangegaan het. Van Staden, wat toe ’n onderwyser op Vaalwater en verslaggewer vir Die Pos was, is kort voor die verkiesing gewerf om as kandidaat te staan. Haar eerste baba was in daardie stadium drie weke oud en sy het steeds geborsvoed.

“Dit was ’n baie rowwe jaar, maar ons is daardeur. My pa, Kobus Vermaak, is aan motor-neuronsiekte (MNS) oorlede en my ma is met dieselfde borskanker as ek gediagnoseer. Ek het in daardie stadium min van munisipale bestuur geweet en moes hard werk om die munisipaliteit se uitdagings aan te pak,” het sy gesê.

Toe, net soos nou, is dit haar hegte ondersteuningsnetwerk van vriende en familie wat haar dra.

Related Articles

Back to top button