Local news

Chico vind sy voete in die Kaap

Die Weimaraner-hond, Chico (3), van Mookgophong se nuwe lewensreis het einde Februarie 2023 begin toe sy eienaar weens gesondheidsredes nie meer na hom kon omsien nie.

Die eienaar het vir Miekie Oberholster, voorsitter van die Naboomspruit-dierebeskermsgroep, genader om ’n nuwe huis vir Chico te soek. Sy het foto’s van die pragtige hond op verskeie sosiale media groepe geplaas vir aanneming.

Hy is onder meer op die groep van die Weimaraner-eienaars in Suid Afrika geplaas en dit is daar waar sy nuwe lewe begin het toe twee diereliefhebbers, Johan en Marida van Schalkwyk van Bellville in Kaapstad, hom raak gesien het.

Nadat die Van Schalkwyks se twee Weimaraners, Roxy (12) en Roberto (13), verlede jaar dood is, was hulle harte gebreek.

“As jy eers eenkeer ’n Weimaraner-hond gehad het, sal jy nie sommer ’n ander hond wil hê nie. Daarom het ons besluit om weer ’n jongerige Weimaraner aan te neem.” “Ons is ’n aktiewe gesin en wou graag weer ’n hond hê wat saam met ons kan hardloop. Verskeie pragtige honde het in aamerking gekom vir aanneming, maar toe ons Chico se hartseer gesig vir die tweede keer sien, kon ons hom nie laat gaan nie. Dit het nie vir ons saak gemaak dat hy so ver van ons af is nie. Ons sou enigiets doen om hom huis toe te bring,” het Johan aan Die Pos gesê.

Volgens Oberholster het die Van Schalkwyk-gesin ’n video gestuur van hulle huis en waar Chico sou bly.

“Ons kon weens die afstand nie soos gewoonlik ’n tuisbesoek doen soos wanneer diere uitgeplaas word nie, maar ek het dadelik geweet dat iemand wat soveel moeite doen, die regte ouers vir hom gaan wees,” het sy gesê.

Die aannemingsproses is afgehandel en Johan het die veeartskoste en die reiskostes betaal. Binne twee dae het ’n barmhartige samaritaan van Mookgophong, Riki van Deventer, vir Chico tot op die Oliver Tambo-lughawe geneem vir sy vlug na Kaapstad.

“Ons is so dankbaar vir almal wat gehelp het om hom tot in die Kaap te kry. Die bang, effens verbouereerde hondjie wat hier aangeland het, het verander in ’n dierbare troeteldier vol selfvertroue. Hy het ’n liefdevolle geaardheid en baie goeie maniere. Baie mense dink dat ons hom ’n guns gedoen het deur hom aan te neem, maar die teendeel is eintlik waar. Ons is bevoorreg om vir Chico te kon kry. Hy verryk ons lewens in alle opsigte en is nou soos ’n kind in ons huis. Ek hoop dat dit meer mense sal inspireer om hulle harte oop te maak vir diere in nood,” het Johan gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button