Crime

Kamera-oog hou skelms fyn dop

Dit is nie net geregsdienaars waarvoor skelms moet uitkyk nie, maar ook die skerp oog van die kamera.

Danksy ’n plaaslike onderneming se veiligheidskamerastelsel is twee mans aangekeer nadat hulle helderoordag ’n skootrekenaar en selfoon gesteel het.

Volgens Dries Cronjé van Outdoor24 in Modimolle het ’n man, wat geklee was in werkersklere en ’n veiligheidshoed, hom voorgedoen as ’n klant by die hardewarewinkel.

“Van sy makkers was op die uitkyk en toe die man sien niemand kyk nie, het hy ’n selfoon en skootrekenaar uit ons verfmenger se kantoor gevat,” het hy gesê.

Die man het nie besef dat die onderneming se veiligheidskamera alles vaslê nie.

Die saak is by die Modimolle-polisie aangemeld en met behulp van die beelde op die kamera is twee verdagtes enkele dae later in hegtenis geneem. Die skootrekenaar is teruggevind.

AO Pieter Booyse van die Modimolle-polisie sê veiligheidskameras is van groot hulp in die bekamping van misdaad.

“Ons het al in talle gevalle deurbrake met ondersoeke gehad danksy die kamerastelsels,” het hy aan Die Pos gesê.

Benewens privaat kameras, is daar ook kameras wat plaaspaaie en toegangsroetes na die dorp dophou. Daar is verskeie kameras in die dorp. Dit is nie net van hulp met misdaadbekamping in Modimolle nie, maar ook van nut in gevalle waar verdagtes van elders deur die omgewing vlug en hul voertuie geïdentifiseer word.

Volgens Booyse het veiligheidsmaatskappye ook toegang tot die kamerastelsels.

“Hulle is van groot hulp om seker te maak die kameras is beman en dat daar vinnige reaksie is wanneer daar ’n voorval is. Daar is baie goeie samewerking tussen die veiligheidsmaatskappye en die polisie. Ek dink dit is ’n groot rede hoekom ons soveel suksesse behaal.”

Die bestuur van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in sektor 2 in Modimolle wil die kamerastelsel in hierdie sektor uitbrei. Benewens die instandhoudingskoste, sal dit R24 500 kos om die stelsel uit te brei. Booyse het huishoudings versoek om R50 by te dra tot die dié projek.

“Misdaad is tans baie laag in die gebied en dit is toe te skryf aan die kameras wat as afskrikmiddel dien,” het hy gesê.

Diegene wat bydraes wil maak vir die veiligheidskameras, kan Booyse bel by tel. 082 850 3419.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button