Entertainment

Kom kuier saam by Dankofferfees

Inwoners van die Bela-Bela-omgewing kan gerus op Saterdag 3 Junie ’n draai maak by die Gereformeerde Kerk Warmbad se Dankofferfees.

Die organiseerders beloof goeie geselskap en smullekker kos. Daar is ook die alombekende Dopper Safari-ete — ’n ontbyt uit die heel boonste rakke.

Gaste kan teen slegs R50 aansit vir ’n bord kaaiings, pap, kerrie en rys, ’n “basaar-brekkie”, koffie en twee pannekoeke. Kaartjies vir hierdie smullekkerte moet egter vooraf bespreek en gekoop word.

Dié fees is in die kontrei bekend vir sy vleisstalletjie wat net van die beste graadvleis beskikbaar het.

Winskope soos beesbiltong sal verkoop word teen R240 per kg, droëwors teen R230 per kg, heel hoenders teen R49 per kg en sopvleis teen R69 per kg. Daar sal ook ander produkte soos wors, maalvleis, lamsvleis en vark wees.

Besoekers moet ook sorg dat hulle ’n draai maak by die Wit Olifant-tafel, die lekkergoedtafel en die tafels vol smullekker gebak.

Die kerk nooi almal om lekker saam te kuier onder die groot tent terwyl nog ’n geseënde jaar gevier word.

Kaartfasiliteite sal by die fees beskikbaar wees.

Die fees duur van 08:00 tot 13:00. Besprekings vir die etes kan gerig word aan Louisa Eloff by die kerkantoor by tel. 082 873 1578. Kerkkantoorure is weeksdae van 09:00 tot 12:00.

Related Articles

Back to top button