Letters

Brief: Optrede noodsaaklik om Unisa te red

Daar is na bewering, naas administratiewe probleme, beweer dat Unisa aan ’n massaproduksie van lae gehalte grade skuldig is.

Dr. Wynand Boshoff, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LP en hoofwoordvoerder: hoër onderwys, skryf:

Die tyd het aangebreek om daadwerklik op te tree om die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) te red.

Die minister van hoër onderwys, wetenskap en innovering, dr. Blade Nzimande, se gebrek aan optrede het die situasie by dié universiteit tot breekpunt laat ontwikkel.

Nzimande het bekend gemaak dat hy die jongste verslag van die onafhanklike assessor,  prof. Themba Mosia, oor Unisa ontvang het.

Hy moet nou besluit oor die aanbeveling om die oudste en grootste universiteit in Suid-Afrika onder administrasie te plaas.

Hierdie stap is slegs die volgende in ’n reeks ondersoeke wat tot dusver op niks uitgeloop het nie.

’n Ministeriële taakspan, wat Nzimande aangestel het om wantoestande by Unisa te ondersoek, se verslag het in Oktober 2021 uitgelek.

Daarin is na bewering, naas administratiewe probleme, beweer dat Unisa aan ’n massaproduksie van lae gehalte grade skuldig is.

Nzimande het nooit die verslag uitgereik nie, maar wel aangedui dat hy met die universiteit saamwerk om foute wat aangetoon is, reg te stel.

Hy is egter in 2022 gedwing om Mosia aan te stel om Unisa te ondersoek.

Ná ’n aanvanklike vertraging is daardie verslag op Vrydag 12 Mei aan die minister oorhandig en volgens wetgewing het hy dit aan die universiteitsraad oorhandig.

Die verslag wys daarop dat die funksionele grens tussen Unisa se bestuur en raad vervaag het, met talle negatiewe gevolge. Die belangrikste aanbeveling is dat die universiteit onder administrasie geplaas word.

Die minister het nou 90 dae om te besluit wat hy met die aanbevelings gaan maak. Indien ’n mens in ag neem hoeveel uitwysings oor Unisa hy reeds geïgnoreer het, ontstaan die vraag of hy nou beslissend sal optree?

Unisa speel ’n sleutelrol om werkende mense se kwalifikasievlak te verhoog. Optrede wat die universiteit se status kan herstel, is dus noodsaaklik.

Related Articles

Back to top button