Local sport

Waterberge toe in ‘n 4×4

Die Waterberg is bekend vir sy pragtige natuurskoon en wildlewe, maar soms is dit moeilik om hierdie plekke te bereik.

Hannes Coetser, verteenwoordiger van die 4×4-klub in Bela-Bela, sê die klub is op soek na mense wat in hul 4×4-voertuie wil klim en die landskap om hulle verken.

“Die Waterberg-omgewing lê werklik wyd en daar is altyd ’n nuwe plek om te verken.”

Die klub is in Augustus 2022 gestig en bestaan uit lede van Bela-Bela, Modimolle, Mookgophong en die omliggende omgewing.

“Mense dink soms ’n 4×4-klub is net vir lede wat oor rowwe terreine, deur slote en in modder wil ry, maar dit is net ’n deel van die pret. Ons wil juis die klub uitbou sodat families kan inskakel en ’n dag saam as gesin geniet. Die bestaande grondpaaie in die omgewing bied wonderlike geleenthede vir die hele gesin om te verken.”

Coetser sê die klub wil saam met grondeienaars van plase of natuurreservate werk wat bestaande 4×4-roetes het. Die biodiversiteit van die Waterberg moet behoue bly en hulle wil eko-toerisme bevorder.

“Dorpe soos Bela-Bela is bevoorreg omdat ons jaarliks duisende besoekers van ander provinsies ontvang. Die 4×4-klub wil die buitengewone mooi omgewing aan besoekers wys en die ervaring onvergeetlik en spesiaal maak. Dit moet ’n bykomende toeriste-aktiwiteit word,” sê hy. “Ek beskik oor ’n agtergrond in opleiding vir 4×4-voertuie en kan belangstellendes raad gee oor die vermoë van hul voertuie. Daar is baie spesifieke maniere hoe sekere voertuie ’n ruwe terrein moet benader. Alle 4×4-voertuie is duur en ons wil skade aan voertuie tydens uitstappies beperk. Elke persoon in die voertuig het ’n spesifieke taak en die interaksie is lekker vir gesinslede.”

Diegene wat graag by die klub betrokke wil raak, moet verkieslik reeds ’n 4×4-voertuig van enige fabrikaat besit. Dit is belangrik omdat die ewenaarslotfunksie (“differential lock”) nodig is wanneer ongelyke terrein aangepak word.

“Indien ons nuwe plekke verken, sal daar altyd lede wees wat kennis dra van dié terrein se spesifieke uitdagings. Bestaande lede het baie jare ondervinding en deel graag hul kennis. Die klub sal die verantwoordelikheid neem vir hul lede wanneer hul op privaat grond op uitstappies gaan. Ons wil goeie verhoudinge met grondeienaars bou en hul geriewe aan ander 4×4-geesdriftiges bekend stel.”

Hy stel dit duidelik dat baie streng reëls by die klub sal geld.

“Eienaars van 4×4-voertuie is bevoorreg om plekke te sien waar ander mense nie kan kom nie, maar dié ervaring word bepaal deur die persoon agter die stuurwiel wat weet wat hy of sy doen.”

Vir navrae bel vir. Coetser by tel. 076 518 7295. Die kontakte vir Modimolle en Mookgophong is tel. 061 438 0397 en tel. 074 979 3821.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button