Blogs

Hoofartikel: Sink of swem ons voorland

Tussen al die agteruitgang en verval van die land se infrastruktuur, probeer ’n mens positief bly; al is dit nie altyd maklik nie.

Vanoggend is dit koud, die lug is grou en ons het selfs ’n vinnige reënbui gehad — dit is nou voor die son later so flou-flou sy verskyning maak en dan weer verdwyn.

Die boom voor my kantoorvenster staan kaalgestroop. Is dit nou daardie groen kommando-ruspes wat so lekker baljaar het of die winter wat kom aanklop het?

Ons Eskom-nagmerrie duur volstoom voort en ek lees nog erger fases is in die pyplyn. Dit gaan ’n donker en koue winter vir ons almal wees.

Gesels ek met vriende, is ons dit eens dat Covid-19 die wêreld omgekeer het en voordat ons weer ewewig gehad het, toe kom beurtkrag en word ons hier aan die suidpunt van Afrika net onverwags verder op ’n anderste manier gepootjie.

Ons mor oor fase een en twee en toe ons weer sien, is ons by fase ses. Jou hele dag word rondom die aanskakel van die knoppie in jou kragboks bepaal. Sal jy eers vanaand ná sewe jou wasgoed kan was en sal jy betyds warm water in die krane hê om die kinders gebad te kry en kos op die tafel te hê?

Jy slaap sleg en jou brein werk al soos die skakelaar in jou kragboks. As die krag in die nag afgaan of aankom, skrik jy wakker.

Ek gesels met die eienaars van kitskosplekke en hulle is op moedverloor se vlaktes. Hulle vertel hulle moet gereeld bestanddele en kos in hul yskaste weggooi, en selfs deure toemaak as die krag afgaan, want om kragopwekkers aan die gang te hou, is veels te duur.

Ek sien groot winkelgroepe op die dorp maak ook nou deure toe as die lang fases van beurtkrag begin, want dit kos hulle maandeliks derduisende rande om kragopwekkers aan die gang te hou.

Dit is hartseer om te hoor van familieondernemings wat ná dekades hul deure moet sluit en personeel wat elders werk moet soek.

Kuier ek in die stad, val dit my op dat die gewilde eetplekke se tafels en stoele wat in die verlede so druk besoek is, nou laataand verlate staan. Mense bly veel eerder tuis en as daar kos gekoop moet word, jaag een van die talle “Uber Eats”-motorfietse of motors na jou huis met ’n kitsete.

Ek onthou pres. Cyril Ramaphosa het met die inperking tydens Covid-19 gesê dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek verstaan dit nou maar alte goed, want so saam met beurtkrag se inskop het ’n ander manier van lewe vir die meeste van ons Suid-Afrikaners aangebreek.

Tussen al die agteruitgang en verval van die land se infrastruktuur, probeer ’n mens positief bly; al is dit nie altyd maklik nie. Ek herinner myself dat hoop nie beskaam nie. Mag ons nie vergeet hoop gee lewe nie. Hoop is om te glo dat daar vorentoe iets beters voorlê; ondanks dit wat ons tans beleef.

Dit laat my dink aan die padda wat in ’n bak room geval en aanhou spartel het totdat dit botter geword het en hy kon uitklim.

Related Articles

Back to top button