Local sport

Stap saam vir goeie doel

Die jaarlikse Congenital Disorders of Glycosylation (CDG)-pretloop, Rare on the Road, vind weer op Saterdag 20 Mei in Bela-Bela plaas. CDG is ’n seldsame siekte wat indringende mediese sorg verg.

Talle inwoners daag jaarliks op om hul ondersteuning aan Stefani van Schalkwyk (9), ’n jong CDG-lyer, te betoon.

Haar ouers, Theunis en Chantelle, is sedert haar geboorte toegewyd in die groot taak om haar gelukkig en gesond te hou.

Die van Schalkwyks sê dit is danksy die gemeenskap wat omgee, hemelse genade en deursettingsvermoë dat hulle kans sien om projekte aan te pak ten bate van hul dogtertjie.

Vanjaar word die vierde CDG-pretloop in Bela-Bela gehou. Die datum word gekies om in dieselfde week as internasionale CDG-dag te val.

Die pretloop is voorheen op Hoërskool Warmbad se atletiekbaan gehou, maar vanjaar word die pretloop by die Aqua Fitness Centre, net buite Bela-Bela op die R101-pad, aangebied.

Deelnemers kan inskryf vir die 1,5 km-, 3 km-, 5 km- en 10 km-pretloop. Die afstande kan gestap of gedraf word.

Deelnemers spring om 08:00 die oggend by die sentrum weg en beweeg in die rigting van die Bela Mall-inkopiesentrum al langs die R101-pad. Padmerkers sal vir deelnemers aanduidings gee waar hulle kan terugdraai.

Kos- en koeldrankstalletjies sal heeldag beskikbaar wees, asook ’n wynproe-stasie vir diegene wat na afloop van die pretloop versterking nodig het.

Daar is vanjaar weer groot pryse op die spel.

“Dit is ’n liefdadigheidsdag vir Stefani. Bring kampstoele en stootwaentjies, nooi jou vriende en kom neem deel vir ’n goeie saak,” vra Chantelle.

Kostes beloop R100 per persoon. Vir kinders jonger as 12 jaar is deelname gratis.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button