Municipal

Rommel in veld ’n brandgevaar

Groot hope vullis word in die veld oorkant die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle gestort.

Die vragte wat inwoners daar afgooi sluit in huisafval en tuinvullis.

Naburige grondeienaars is bekommerd dat hierdie rommel ’n brandgevaar kan skep en hulle hul weiding kort voor die winter kan verloor.

Gevalle waar rommel onwettige op openbare plekke gestort word, het drasties toegeneem. Inwoners kla dat die stortingsterrein nie toeganklik is met hul voertuie nie en dat hulle te onveilig voel om daar in te ry. Die dorp se nuwe stortingsterrein sou reeds vroeër vanjaar geopen het, maar is nog nie in gebruik nie. Inwoners wag reeds jare lank hierop.

Marise van Biljon, wat op ’n plaas in die omgewing woon, sê dat hulle gereeld voertuie by die grondpad, naby die treinspoor, sien inry om hul vullis te stort.

“Ons is baie bekommerd oor die brandgevaar wat dit skep. Mense gebruik ons grond om van hul vullis ontslae te raak. Daar was reeds einde Maart ’n voorval waar iemand een van die hope vullis aan die brand gesteek het en die vuur na ons plaas versprei het en ons van ons weiding verloor het,” sê sy.

Ander oop stukke grond loop ook deur onder inwoners wat hul vullis eenvoudig in die veld gaan aflaai. Dit sluit in dele by die watertoring en langs die braksloot.

Volgens die burgemeester, Marlene van Staden, is die nuwe stortingsterrein baie naby aan voltooid.

“Die munisipaliteit wag vir ’n brief van die provinsiale departement van omgewingsake, toerisme en ekonomiese ontwikkeling (Ledet) voordat hulle die nuwe stortingsterrein kan voltooi,” het sy gesê.

Die nuwe terrein het ’n groot stoor wat vir herwinning gebruik sal word. Dit is reeds met ’n betonheining omhein wat toegang tot die terrein sal help beheer.

Related Articles

Back to top button