Local news

’n Passie vir Afrikaans bied blink toekoms vir oud-Warrie

’n Oud-leerder van Hoërskool Warmbad, en deesdae ’n erkende taalfundi van die Universiteit van Pretoria, Natasha Labuschagne, is op Donderdag 4 Mei deur die die ATKV vereer as ’n toppresteerder in Afrikaans.

Natasha het in 2017 aan Hoërskool Warmbad gematrikuleer.

“Ek sou oorspronklik radiografie by die Universiteit van Pretoria gaan studeer het, maar dit was werklik uitdagend. Ek het toe besluit op ’n BA-graad met tale as hoofvakke. Afrikaans was my gunstelingvak. Dit is moeilik om te beskryf hoe diep die taal werklik is en watter geleenthede dit vir ’n mens kan oopmaak as jy dieper delf,” het sy aan Die Pos vertel.

Natasha is uitgesonder as die toppresteerder in die honneursklas van 2022 by die UP.

Haar verhandeling het gehandel oor rekenaartegnologie. Sy was opgewonde toe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir haar ’n beurs aangebied het om haar honneursgraad te voltooi, vertel sy.

“Ek het rekenaartoepassings, vertaalsisteme en toestelle wat teks opsom en spesifiek vir Afrikaans bestudeer. Daar is baie positiewe punte oor die onderwerp, maar ook baie leemtes,” het sy gesê. “Ek het op skool baie van Afrikaans en Engels gehou. Dit was lekker om kreatiewe opstelle te skryf. Ek het baie by my oupa, Albertus Matthee, geleer wat my van kleintyd af met oulike sêdinge in Afrikaans geïnspireer het. Hy het my ook aangemoedig om die taal suiwer te hou en dit te waardeer.”

Natasha woon en werk sedert Februarie in Kaapstad vir die maatskappy TripCo as kopieskrywer en redigeerder.

TripCo bestuur onder meer die webtuiste LekkeSlaap.co.za(.)

“Ek is mal oor my werk, want daar is min mense wat werk kry in die spesifieke vakgebied waarin hulle gestudeer het. Ek dink leerders op skool dra nie aldag kennis van wat tale vir hulle kan beteken nie, veral wanneer hulle blootstelling daaraan op universiteitsvlak kry. Daar is selfs werkgeleenthede in Afrikaans oorsee.”

“Ek het nog redelik baie kontak met mense in Bela-Bela, want ek is trots op die plek waar ek vandaan kom. My ma, Christa Velthuysen, woon en werk by die Bela-Bela-polisie.”

Natasha beplan om haar meestersgraad aan te pak.

“Daar is baie mense wat sê dat Afrikaans nie meer ’n plek het nie, maar solank as wat daar sprekers, investeerders en mense is wat die taal wil uitbrei en koester, sal dit bly voortbestaan. Ek is trots daarop om Afrikaans te wees en om deel te wees van die taal se vooruitgang.”

Related Articles

Back to top button