Blogs

Hoofartikel: Kollegas kan jou teen die mure uitdryf

Enige kantoorwerker weet dat ’n onaangename kollega ’n mens se lewe goed kan versuur en daardie agt ure wat jy by die werk deurbring na ’n ewigheid kan laat voel.

Daar is mede-werkers wat, hoewel hulle die dierbaarheid vanself is, se onnadenkendheid die frustrasievlakke goed kan laat styg.

Dit is dikwels die klein dingetjies wat vir goeie buurmanskap by die werk sorg. En dit is hier wat ek ergerlik raak, veral as druktyd met groot spoed nader kom en ’n mens onder groot druk werk.

My nuwe kollegas werk nie altyd saam nie.

Bied so nou en dan aan om koffie te maak, veral as jy verveeld rondlê en niks het om te doen nie. En neem jy óók ’n bietjie ’n beurt om daardie koffiebekers te was, ag toe man. Ons is mos in dieselfde span. Groot asseblief, daardie privaat gesprekke wat so luidkeels reg voor my venster gehou word sodat ek nie ’n telefoongesprek kan voer nie, grief my diep. Die kliënte kla!

Terwyl ek nou reeds aan die kook is, kan ons praat oor persoonlike higiëne? Die lekkernye wat ek op my lessenaar hou om my mede-werker wat kort-kort hier langsaan oopmond staan en hyg se stink asem teë te werk, hou eenvoudig nie. Die ergste is wanneer ek een van die vroulike kollegas se hare uit my sleutelbord moet vis. Ag nee sies man. Dit is dieselfe ene wat ten spyte van haar ouderdom, sulke stywe eenstuk-katpakkies dra en haar slanke lyfie om al wat ’n besoeker is krul. Is sy hier om te werk of om ’n man te vang, vra ek jou?

Ai tog.

Mense dink dit is maklik om van die huis af te werk. Dit is nie.

My troeteldiere kla dat ons werk-van-die-huis-af-planne nooit met hulle bespreek word nie. Hulle sien geen rede om van hul roetines af te wyk nie. Die bejaarde kat gáán in die sonkol op die lessenaar lê en slaap en sal skuur teen wie sy wil wanneer sy wil. Die brakke sê ek moet my nie aanmatig nie, hulle het óók dinge om te doen. As dit vullislorriedag is, is dit hul plig om te blaf, spertyd of te not.

Studies wys dat interaksie met troeteldiere ’n mens se vlakke van die streshormoon kortisol verlaag. So ook jou bloeddruk. Hulle kan jou laat voel dat jy ondersteuning het wanneer jy moedeloos is en kan jou gemoed help lig.

Dit is seker waar, maar ek is seker dit geld nie wanneer hulle besig is om aan jou voete of jou skootrekenaar se kabel te kou nie.

Related Articles

Back to top button