Letters

Brief: Ma-wees lê ook in die stemtoon

Dit maak nie saak in watter stemtoon jy vanjaar met jou ma praat of ván haar praat nie. Solank jy net weer besef dat haar waarde veel wyer strek as alle moontlike stemtoonhoogtes.

Santie Gildenhuys, Modimolle, skryf:

Ma is ’n kort woordjie met vele definisies.

Die woord “ma” se betekenis hang nóú saam met die konteks waarin dit gebruik word.

Het u, leser, al opgemerk dat die klem en die lengte van die a-klank in “ma” boekdele spreek? Hierdie boekdele wissel van baie ernstig tot hoogs amusant. ’n Paar interessante voorbeelde:

Wie het hierdie lekker kosblik vir jou gepak? — My ma het (vanselfsprekende stemtoon).

Wie is die kwaaiste? Jou pa of jou ma? — My ma, natuurlik (onnosel vraag-stemtoon).

Hoekom lê jy so stil op jou bed? — My ma wil mos hê ons moet Sondae rus (erg verwytende stemtoon).

Jy gaan nie na daardie partytjie toe nie. — Maar Mááá (almal-gaan-dan-stemtoon).

Jy het kleintyd te hoog in die boom geklim. — Má! Kom help! (doodbenoude stemtoon).

My laaste stemtoon-voorbeeld behoort aan Benjamin Komoetie met die woorde wat sy ma, Fiela Komoetie, by hom ingedril het. Hy moes as volg antwoord wanneer die magistraat hom vra hoe hy by Fiela beland het (Fiela se kind van Dalene Matthee): “Die Here het my aan Ma toebetrou (sic).” (behorende stemtoon).

Sondag vier ons Moedersdag. Dit maak nie saak in watter stemtoon jy vanjaar met jou ma praat of ván haar praat nie. Solank jy net weer besef dat haar waarde veel wyer strek as alle moontlike stemtoonhoogtes.

Onthou dat jy ook eens aan haar toevertrou was en dat die band altyd daar sal wees — onder alle omstandighede en oor jare en kilometers.

Baie dankie, Moeder(s)!

Related Articles

Back to top button