Local news

Beslis ’n toer om te onthou

Geskiedenisliefhebbers het die afgelope week deur nuwe oë na die Waterberg-omgewing gekyk.

Altesame 45 besoekers het op Maandag 8 Mei saam met Mauritz Hansen op ’n geskiedkundige toer van twee dae vertrek. Hulle het geskiedkundige plekke in Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong besoek.

Hansen is ’n historikus en gewese skoolhoof van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong. Hy het ’n reusepassie vir die omgewing se geskiedenis.

“Ons het sowat drie jaar gelede ’n vierdaelange geskiedenistoer saam met geskiedhistorici van Pretoria en Bloemfontein gereël. Ons het die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog bestudeer en plekke van historiese belang besoek.”

Danksy dié toer was daar groot belangstelling in nog ’n toer, vertel hy.

Die toer het by Hoërskool Warmbad, wat in 1947 gestig is, weggespring.

Mauritz Hansen, geskiedenistoerleier, betoon sy dank aan Johan van Niekerk, stigter van die Bela-Bela Heritage-organisasie, vir die rol wat hy speel in die herlewing van Bela-Bela se geskiedenis.

Hansen het uitgebrei oor die dorp se oorsprong en vertel hoe die Tshwana-stam die oorspronklike ontdekkers van die dorp se legendariese warmwaterbronne (toe bekend as Hartingburg) was.

Dié oorspronklike bron is steeds in Forever Resorts se terrein. Warmbad het in 1960 dorpstatus gekry.

Die groep het van daar na die Voortrekkergrafte agter die Bela-Bela-munisipaliteit vertrek waar dorpstigters soos Carel van Heerden, asook Christina, die vrou van die Voortrekkerleier, Andries Pretorius, begrawe is.

Hansen het belangrike grafte aan die toergroep uitgewys.

“Christina Pretorius is na die warmwaterbronne gebring omdat die mense gehoor het dat die bron se water helend is. Andries Pretorius was in daardie stadium onderweg na die Slag van Boomplaats.”

Die groep was ook baie opgewonde om die geskiedkundige Engelse blokhuis in die dorp se industriële gebied te besoek.

Hansen het Johan van Niekerk, stigter van die Bela-Bela Heritage-organisasie, geprys vir die wyse waarop dié groep onlangs die hele terrein in en om die blokhuis opgeknap het.

Daarna is die groep na Modimolle se Voortrekkerbegraafplaas, geskiedkundige kerke en die ou Konsentrasiekamp. Vandaar is hulle na Mookgophong waar Hansen hulle meer vertel het oor dié dorp se ontstaan en geskiedenis.

“Dit is nodig dat mense onthou waar hulle vandaan kom, want dit gee jou menswaardigheid terug. Mense wat hul geskiedenis prysgee, het geen fondasie om op te bou nie. Wees trots op jou geskiedenis.”

Hansen beplan nog ’n toer in Augustus wanneer hy belangstellendes na die slagvelde van Majuba, Bloedrivier en ander plekke in KwaZulu-Natal sal neem.

Related Articles

Back to top button