Local news

Knaag-knaag neem ruspes dorp oor

“Dit is ’n grieselrige ervaring,” het ’n leser gesê.

Talle inwoners van Bela-Bela het die afgelope week met skok kennis geneem van duisende kriewelende geelgroen ruspes wat hul tuine oorgeneem het.

Inwoners is veral bekommerd dat die ruspes permanente skade aan groot, gevestigde bome kan aanrig. Verskeie inwoners het vertel hoe hulle kan hoor hoe die ruspes die blare vreet. Die terrein waar die ruspes hulle bevind, lê ook besaai met swart korrels mis. Dit val in mense se kos, op hul voertuie se dakke, op hul stoepe — orals.

“Dit is ’n grieselrige ervaring,” het ’n leser gesê.

Kenners meen egter dat die ruspes jaarliks voorkom en wel beheer kan word.

Daar heers ’n uitbraak van kommandowurms in Die Pos se lesersgebied. Die unieke geel en groenerige ruspes (bo en onder) word op bome en plante aangetref. Kenners meen dit kan beheer word. Foto’s: Herman Steyn

Volgens inligting van die plaaslike Dendrologiese-vereniging is die ruspes bekend as kommandowurms (die Rhenea mediata-genus).

Boomkenners en vakkundiges waarmee Die Pos gesels het, meen dat hulle wel blaarskade kan aanrig, maar dat die plante en bome dit sal oorleef.

“Hulle broei gewoonlik tussen Maart en April uit, maar kan ook tussen September en Oktober voorkom. Hulle word meestal ná ’n nat groeiseisoen aangetref. Die vlinders lê hul eiers in die grond (baie selde in bome se bas), die ruspes broei uit en hulle vreet wat hulle kan vind,” vertel Des van Heerden, entomoloog van Bela-Bela. “Die rede waarom hulle in groot getalle op bome gewaar word is omdat die weersomstandighede gunstig is. Die vlinders kan tussen 200 na 300 eiers in hul leeftyd lê, maar die vlinders rig geen skade aan nie.”

Sy sê mense kan plaagbeheer toepas deur pektroïdes (’n gifmiddel) aan te skaf en die ruspes daarmee spuit.

Die ruspes is grillerig, sê inwoners van Bela-Bela. Hier staan Brenda-Lee Bosch doodstil nadat een van die ruspes op haar kop geval het toe sy onder ’n boom deur geloop het. Foto: Herman Steyn

“Die ruspes in hul papies kan ongelukkig nie uitgewis word nie en dit help nie om die gifmiddel vooraf op ’n boom te spuit nie. Om die populasie te beheer moet dit direk op die ruspes gespuit word, maar mense moet versigtig wees dat die gif nie op hulle kom of hulle dit inasem nie. Na my mening moet mense dit liefs net een keer op die ruspes spuit.”

Daar is verder natuurlike parasiete, miere, wespes of voëls wat die ruspe-populasie kan help beheer. Ongelukkig kan die hele populasie nie werklik uitgewis word nie, sê sy.

“Hierdie soort insekte is dus nie noodwendig ’n plaag nie — dit is slegs ’n uitbraak,” sê sy. “Sodra die ruspes klaar gevreet het, pupeer hulle en word vlinders. Hulle mis word beskou as ’n baie goeie komposmiddel. Hou maak dop — op die plekke waar hulle gevreet en verdwyn het, behoort die bome mettertyd weer geil te groei.”

Dit is soms beter dat die natuur sy gang gaan, meen sy.

Related Articles

Back to top button