Local news

Ou Modimolle-begraafplaas opgeknap

Die lus om die dorp reg te ruk blyk aansteeklik te wees nadat nóg ’n onderneming in Modimolle ingespring het om die ou konsentrasiekampkerkhof se gras te sny.

Die Pos het vroeër berig dat dit ’n plaaslike onderneming dae geneem het om die groot begraafplaas se skouerhoogte gras weer onder beheer te kry.

Talle ander inwoners en sakelui het reeds sypaadjies en parkies “aangeneem” om te versorg sodat die dorp nie vervalle en verwaarloos lyk nie.

Jonita de Vaal van Doorndraai Tuingenot sê nadat sy deur die Erfenisstigting genader is om die gras te sny, het sy besluit om dit gratis te doen.

“Ek dink dit is goed om terug te ploeg in ’n mens se gemeenskap. Ek het besluit om een keer per maand so ’n projek aan te pak,” het sy gesê.

Die ou kerkhof dateer uit Nylstroom se vroeë dae en is ’n stille getuie van die hartseer wat tydens die Anglo-Boereoorlog (Mei 1901 tot Februarie 1902) afgespeel het.

Talle kindergrafte vertel van die ontberinge wat vroue en kinders moes deurmaak.

Op die gedenksteen staan geskryf: “Hier rus, behalwe vir ’n paar ander persone, 544 vroue en kinders wat as slagoffers van die konsentrasiekamp, gedurende die oorlog van 1899 tot 1902, die lewe ingeskiet het…”

Die Nylstroom-konsentrasiekamp was een van die kampe wat die hoogste sterftesyfer gehad het weens die nat weer, oorbevolking, ’n tekort aan kos, ’n strawwe winter en tifuskoors. Na raming is 429 van die 544 mense wat daar begrawe is, kinders onder 15 jaar. Die kamp het in ’n stadium altesame 1 852 inwoners gehad.

Related Articles

Back to top button