Local sport

Jong sportvrou mik Statebondspele toe

Die nuuskierige 12-jarige wat saam met ’n familielid gimnasium toe is, sou nooit kon raai dat sy enkele jare later genooi sou word om haar land tydens die Statebondspele te verteenwoordig nie.

Vandag, slegs vier jaar later, lig sy 80 kg se gewig bo haar kop en kan die titel van Afrika-jeugkampioen agter haar naam skryf.

Nolene Schlemmer, ’n gr.11-leerder aan Hoërskool Nylstroom, sal as gewigopteller van 12 tot 16 Julie aan die Statebondspele in Delhi, Indië, in die 81-vrouekategorie deelneem. Die kategorie is vir vroue wat tussen 67 kg en 81 kg weeg. Haar naam is op die voorlopige lys gevoeg.

“Ek was een dag saam met my skoonsussie, Madrinet Schlemmer, na oom Koos Henning se gimnasium toe. Sy het gewigte opgetel, maar nooit aan kompetisies deelgeneem nie,” sê sy. “Ek was nuuskierig, maar oom Koos het my teruggehou en daarop aangedring dat ek eers sterker word en die tegnieke aanleer.”

Vir ’n beter afrigter kon sy nie vra nie. Henning is ’n gesoute gewigopteller wat bykans elke gewigopteltitel in die land in ’n stadium agter sy naam kon skryf. Hy was die afgelope paar jaar drie keer onder die topses in die meesterswêreldkampioenskap.

Gewigoptel het twee tegnieke, vertel Schlemmer. Die eerste is “snatch” waar die gewigopteller in ’n enkele beweging, met ’n wye greep op die stang, die gewig tot bo hul koppe lig. Haar persoonlike beste in hierdie item is 64 kg.

In die “clean and jerk”-metode het die gewigopteller ’n nouer greep en lig die gewig eers van die grond af tot by hul skouers en daarna met ’n ruk-aksie tot bo hul koppe. Schlemmer se beste prestasie in hierdie tegniek is 81 kg.

“Tydens kompetisies kyk hulle na ons swaarste “snatch” en “clean and jerk” en tel dit bymekaar om ’n totaal te kry wat die wenner bepaal.” Haar totaal tydens die Gauteng-provinsiale kampioenskap was 145 kg met my persoonlike bestes van 64 kg en 81 kg onderskeidelik.”

Sy neem in Gauteng deel omdat die sport nie so gewild in Limpopo is nie. Daar is wel baie deelnemers in Gauteng omdat gewigoptel ook onder die crossfit-kategorie val.

“Gewigoptel gaan soos enige ander sport oor uithouvermoë. Dit verg dissipline wat verskillend is van motivering. Motivering kom en gaan, maar dissipline sorg dat jy aanhou oefen,” het Henning gesê. Schlemmer beaam dit. “Daar is tye wat ek nie lus is om te oefen nie, maar opdaag en doen wat ek moet. Dan is dit weer verby en ek is gefokus op wat ek wil bereik.”

Wat is volgende in haar visier?

“Ek sal graag een van die Suid-Afrikaanse rekords agter my naam wil skryf.” Die jeugrekords vir “snatch” is 73 kg en vir “clean and jerk” is 90 kg.

Duisende atlete van 72 lande wat deel van die Statebond is, neem aan die byeenkoms deel. Dit vind elke vier jaar plaas. Schlemmer is besig om geld in te samel om hierdie groot mylpaal te kan haal.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button