Local news

Groot boom val in die Waterberg

Die dood van die bekende plantkundige, emeritus prof. André de Villiers (80), laat ’n groot leemte.

De Villiers is op Maandag 17 April aan ’n hartaanval oorlede.

Hy was ’n afgetrede professor in plantkunde wat vir jare op die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika se uitvoerende komitee in Pretoria gedien het. Hy was met sy dood by die Magalies-tak van die vereniging betrokke waar hy tot 2018 as voorsitter gedien het.

Hy en sy vrou, Ann, het wonings in Pretoria en buite Bela-Bela gehad. Hy is by sy huis buite Bela-Bela oorlede.

Volgens Naas Grové, president van die Dendrologiese Vereniging, het De Villiers in Februarie 80 geword.

“André het plantkunde op voorgraadse vlak op universiteit bestudeer en daarna verskeie ander akademiese kwalifikasies in die ekonomiese en bestuurswetenskappe behaal. Hy was ’n planmaker en was altyd vriendelik, opreg en hulpvaardig,” het Grové vertel.

Die vereniging het De Villiers geloof vir die werk wat hy verrig het om die beeld van die vereniging te verbeter en in die media te bevorder.

Grové sê De Villiers was aktief betrokke by die Gryskrag-tydskrif. Die groep kundiges beywer hulle om afgetredenes te betrek by nuwe publikasies en navorsing.

“Hy is verskeie kere deur die vervaardigers van die kykNet-program Huppel in die Stap genader om as kundige op te tree. Wat my bygeval het, was die manier waarop hy sy kennis van dendrologie met kykers gedeel het. Hy was kalm en rustig en het sy omvattende kennis op ’n eenvoudige wyse oorgedra sonder om vir die kyker te slim te klink.”

Dr. Theunis Morgenthal, voorsitter van die Magalies-tak, sê De Villiers het sy liefde vir die natuur op sy eiendom buite Bela-Bela uitgeleef. Hy het die natuur gekoester.

“André het ’n paar boeke geskryf en was in die proses om ’n derde uitgawe vry te stel. Hy en sy vrou was kranige tennisspelers. Ek sal hom onthou as ’n sagmoedige reus, baie welsprekend, intelligent en ’n goeie leier. Hy het daarvan gehou om die humor in die lewe raak te sien en dit skemer ook in sy boeke deur.”

De Villiers se familie sê sy dood was onverwags en baie traumaties.

Sy begrafnis het op Woensdag 26 April vanuit die Nederduits Gereformeerde Kerk Lyttelton-gemeente in Pretoria plaasgevind.

Related Articles

Back to top button