Municipal

Slaggate in Mookgophong word herstel

Slaggate sal hopelik eersdaags iets van die verlede wees vir Mookgophong.

Die kontrakteur wat deur Limpopo-pad-agentskap (RAL) aangestel is om die strate in Mookgophong te herstel, het op Woensdag 5 April in die dorp aangekom. Inwoners is verheug oor die nuus omdat die “Ruk Naboom Reg”-span al verskeie kere op hul eie koste en danksy skenkings van inwoners, self die noodsaaklike strate se slaggate herstel.

’n Paar groot slaggate in 1ste Laan en 4de Straat, asook die toegangspad na Sektor 1, is deur die kontrakteur geïdentifiseer en sal voorkeur geniet. Daar is dadelik begin met die voorbereiding vir die herstel daarvan.

Marlene van Staden, burgemeester, DA raadslid Hercules Louw en Marita Louw (wyksraadslid van Wyk 5) het besoek afgelê om te sien hoe vordering gemaak word.

Koue- en warm teer is by Rooiberg Asphalt bestel en die koue teer is reeds op 10 en 11 April aangewend om van die plekke op te vul. Van Staden het aangedui hulle is verheug dat hierdie groot strate, en daarna nog ander strate in die dorp, herstel word.

Related Articles

Back to top button