Local news

‘Son’ skyn vir Nylies

"Ons hoef nie ’n oomblik se akademiese tyd in te boet nie."

Dit gebeur min dat ’n mens breë glimlagte sien wanneer beurtkrag inskop, maar by Laerskool Nylstroom was die vreugde verlede week opvallend.

Die 44 sonpanele wat netjies op die skoolsaal se dak gemonteer is, het veroorsaak dat die ligte skaars geflikker het toe die krag afgaan.

Skoolhoof Roelf Vorster is baie in sy skik.

“Ons hoef nou nie ’n oomblik se akademiese tyd in te boet nie. Ons span deesdae so baie tegnologie in die klaskamers in met die interaktiewe witborde, internet en WiFi. Die sonkrag verseker dat ons nou doeltreffende onderrig kan aanbied, ondanks al die probleme wat met die elektrisiteit ondervind word. Die panele sorg dat leerders nou kan konsentreer op hul werk wanneer beurtkrag ingestel word. Ons wil net die beste opleiding verskaf.”

Volgens Vorster kan geleenthede wat in die aand by die skool gehou word, nou voortgaan, beurtkrag of te nie. Die skool het ook die afgelope naweek ’n groot bulletjierugby- en mini-netbaldag vir sowat 950 spelers aangebied en die bekommernis van hoe beurtkrag dit kan omverwerp, is uit die weggeruim.

Roelf Vorster, skoolhoof van Laerskool Nylstroom, is dankbaar vir die sonkragstelsel wat by die skool geïnstalleer is.

Die skool se sonkragstelsel is deur ’n plaaslike verskaffer geïnstalleer wat vinnig kan reageer indien probleme ondervind word. Die voldoeningsertifikaat (COC) is ook deur ’n plaaslike elektrisiën uitgereik.

“Ek is baie dankbaar vir die finansiële komitee van die beheerliggaam wat die saak deeglik ondersoek en deurgevoer het,” het Vorster gesê.

Volgens die voorsitter van die beheerliggaam, Adriaan du Plessis, sal die skool se elektrisiteitsrekening na raming met sowat 85% verminder. Die onkoste wat die kragopwekker meebring, is ook nie meer nodig nie.

“Ons voorsien ’n groot besparing op die langtermyn. Omdat die skool se dakke reguit noord wys, het ons krag van 07:00 soggens en daar word in daardie tyd geen krag van Eskom se netwerk gebruik nie. Die gewone skoolure is gelukkig wanneer die son helder skyn.”

Benewens die 44 panele, bestaan die stelsel uit twee 12kW-driefase omskakelaars (inverters) en ’n 25kW batterystelsel.

Related Articles

Back to top button