Municipal

Pomp onklaar — inwoners kry water uit vuil spruit

Die Moepel Farms-nedersetting op die Marken-pad buite Mokopane moet deesdae tevrede wees met vuil water nadat ’n boorgatpomp in September 2022 onklaar geraak en glo nooit deur die munisipaliteit vervang is nie.

Corinus du Toit, DA-raadslid by die Waterberg-distrikmunisipaliteit, sê hy was deel van ’n groep wat op Saterdag 8 April vir die DA werwing in die gebied gedoen het toe hulle op dié probleem afgekom het.

“Die pomp het blykbaar sewe maande gelede onklaar geraak. Die munisipaliteit het die pomp in Februarie uitmekaar gehaal en weggeneem, maar dit is tot op hede nog nie vervang nie. Nou moet baie mense daaronder ly,” vertel hy. “Die meeste inwoners moet nou kilometers met ’n kruiwa vol waterkanne stap waar hulle vuil water uit ’n syfergat moet kry.”

Die direkte pad na die waterpunt is nie begaanbaar met ’n voertuig nie nadat ’n groot boom vroeër omgeval en die toegang versper het.

By die waterpunt moet inwoners hulself op twee houtpale balanseer om water uit die gat te kan skep. Du Toit sê die gehalte van die water is werklik ’n bron van bekommer en daar is geen veiligheidsmaatreëls in plek by die pompstasie nie.

“Die slotte by die boorgat se pompkamer is verroes en dit word met gewone binddraad toegemaak. Die pomp het ook geen dryfband nie,” sê Du Toit. “Ons het jong kinders opgemerk wat dag in en dag uit tussen hul wonings en die spruit moet stap vir water. Die inwoners sê wanneer hulle die munisipaliteit bel, word daar glo gesê daar is geen voertuig beskikbaar nie.”

Die klagte is op Woensdag 12 April weer by die munisipaliteit aangemeld en die DA dring aan op antwoorde, sê Du Toit.

Die Pos het die munisipale woordvoerder by sy kantoor vir kommentaar probeer skakel, maar dit gaan outomaties oor na ’n stemboodskap en met druktyd het ons nog nie terug-
voer ontvang nie.

Related Articles

Back to top button