Crime

N1-rowers brand los op motoriste

Motorryers wat gebruik maak van die N1-snelweg van en na Gauteng moet uiters waaksaam wees nadat ’n rooftog weer op Dinsdag 18 April naby die Mantsole-weegbrug plaasgevind het.

Volgens lt. kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, was ’n swart Corsa-voertuig met twee broers onderweg na Limpopo toe hulle waarskynlik oor skerp voorwerpe in die pad gery het.

Hul voertuig is beskadig en hulle moes noodgedwonge stilhou. Die voorval het volgens die polisie net ná 00:30 plaasgevind.

“Die regterbande was albei beskadig en die bestuurder moes stilhou om hulp te ontbied. Die rowers het uit die bloute op hulle losgebrand en albei insittendes gewond,” vertel Smith. “Die bestuurder het daarin geslaag om uit die voertuig te klim en regoor die snelweg, tot op die middelman, te kruip. Sy broer het mense in Gauteng vir hulp gebel waarna die nooddienste ontbied is.”

Albei is na die Warmbad-hospitaal vir behandeling geneem.

Die bestuurder van die voertuig, Herman Ramallo, het in die hospitaal aan sy wonde beswyk, het Smith gesê. Sy broer, Fhatani, is steeds in die hospitaal vir behandeling. Herman was na verneem word ’n veiligheidsbeampte.

“Daar is vermoedelik skerp klippe in die pad geplaas. Die ondersoek toon tot dusver dat niks van die slagoffers of uit die voertuig geroof is nie, wat baie vreemd is,” sê Smith.

Volgens ’n sosiale mediaplasing deur die Heritage Protection Group (HPG) was daar na verneem word ses verdagtes by die voorval betrokke.

Die HPG-span het die spore al langs die snelweg gevolg en die vermoede bestaan dat die rowers ná die aanval opgelaai is.

’n Hommeltuig van AfriForum, asook die polisie se honde-eenheid, is ingebring om die omliggende omgewing te fynkam.

“Daar was in die weke vooraf twee ander voorvalle waar voertuie op die snelweg deur voorwerpe in die pad beskadig is. Dit maak die polisie bekommerd dat rowers summier op voertuie begin skiet,” sê Smith.

Die polisie volg alle leidrade op.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button