Local news

Dana loop terug op sy ‘Nylstroom’-spore

Bekroonde skrywer en dramaturg Dana Snyman het verlede week op ou spore teruggestap toe hy sy alma mater Hoërskool Nylstroom, asook die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle, besoek het.

Dié besoek was vir die verfilming van die eerste episode van sy reeks Grondpad Geloof, wat op Sondag 9 Julie op KykNet uitgesaai word.

Snyman, wat van gr. 8 (destyds st. 6) tot in matriek in die skoolkoshuis was, het die skool saam met sy oud-geskiedenisonderwyser, Mauritz Hansen, besoek. Hansen was later jare skoolhoof by Hoërskool Hans Strijdom. Snyman se pa was ’n predikant.

“Dit was vir my ’n besondere voorreg om op sestigjarige ouderdom te kon terugkom. Op die oomblik verwag mense in Suid-Afrika half om die slegste van alles te sien — en ek is telkens verras. Die hoërskool se geboue en rugbyvelde is netjies en lyk beter as toe ek daar was,” het hy gesê.

“Ek was nog nooit vantevore by die kinderhuis nie. As kind het ek so half ’n vrees daarvoor gehad — ’n mens is mos maar bang dat dit jou lot kan word. Dit is ’n wonderwerk wat daar staan. Wonderwerke is nie noodwendig ’n mirakel nie, maar iets ooglopends hier voor jou; ’n kinderhuis soos Abraham Kriel wat ’n veilige, netjiese hawe is wat kinders hoop gee in ’n land wat uitmekaar val.”

Hy sê dat hy dankbaar is vir die besoek sodat hy die onnodige vooroordele wat hy as kind gehad het, kon besweer.

Skrywer Dana Snyman het tydens sy besoek aan Modimolle ook ’n draai by die Abraham Kriel-kinderhuis gemaak waar hy met die hoof, Gerda van der Merwe gesels het.

“Hier is soveel omgee en liefde vir die kinders. Ek het nie besef dat die terrein so netjies is nie; selfs met ’n rugbyveld en ’n swembad. Dit was ’n wonderlike ontdekking.”

Snyman is ’n skrywer met ’n besondere talent om in fyn detail te beskryf wat ander nie woorde voor het nie.

Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, sê dat Snyman hulle gevra het of die kinderhuis wonderwerke ervaar. Hy het met een van die gr. 8-meisies gesels wat die onderhoud as baie positief ervaar het.

“Dana het gesê wat vir hom verblydend is dat ons kinders nie meer so geëtiketeer word soos vroeër jare nie,” het sy gesê. “Ek het hom as ’n gemaklike mens ervaar wat saam met my trane afgevee het toe ek emosioneel raak oor die mooi stories wat ons by die kinderhuis ervaar,” het sy vertel.

Rudie Fourie, adjunkhoof by Hoërskool Nylstroom, sê dit was vir hom net so ’n voorreg om Snyman te ontmoet en die skoolterrein te wys.

“Hy is ’n plat op die aarde mens en ons het heerlik gesels.”

Snyman het sy skryfloopbaan as misdaadverslaggewer by Beeld begin, waarna hy ’n joernalis by Huisgenoot was en het twee keer ATKV-veertjie-toekennings vir sy werk ontvang. Hy het verskeie boeke gepubliseer en verhoogstukke geskryf. Sy verhoogstuk “Dominee Tienie” is verfilm met Frank Opperman in die hoofrol. Hierdie is ’n deernisvolle verhaal van ’n predikant wat innerlik diep moet delf om sy selfvertroue te herwin om sy gemeente te lei.

Related Articles

Back to top button