Local news

Bekende sentrum kom onder hamer

Die Sparrow-winkelsentrum in Modimolle beland aanstaande week onder die hamer.

Dié sentrum was die eerste groot winkelsentrum in die dorp ná die oorspronklike kleiner Pick n Pay-sentrum en MegaSave. Pick n Pay is tans die hoofanker. Hul kontrak verstryk eers oor 21 jaar.

Volgens die afslaer, High Street Auctions, is die perseel 2,5 ha groot met 7 858 m² se verbeteringe wat daarop aangebring is.

Die jaarlikse bruto-inkomste beloop ongeveer R8,9 miljoen. Die sentrum, wat in die hoofstraat geleë is, is toegerus met ’n 24-uur kragopwekker en is onlangs opgeknap.

Ander huurders in die sentrum sluit onder meer in die Wimpy, Ocean Basket, Autozone, Crazy Store, Vodacom, AVBOB, Auto Pedigree en die Haval-motorhandelaar.

Samantha Bartlett van Bartlett Communications wat namens High Street Auctions optree, sê eiendomsfondse konsolideer hul kleinhandelbates. Die eienaar van die Sparrow-winkelsentrum verkoop die sentrum as deel van sy besigheidstrategie

“Dit skep geleenthede vir onafhanklike beleggers om ’n voet in hierdie winsgewende sektor te kry. Ten spyte van die land se vele ekonomiese uitdagings, toon hierdie sektor indrukwekkende uitslae.”

Sy sê die Clur-winkelsentrumindeks dui aan dat die groei in Suid-Afrikaanse winkelsentrums verlede jaar die hoogste in vier jaar was.

Greg Dart, ’n direkteur van High Street Auctions, het gesê eiendomsfondse met uitgebreide kleinhandel portefeuljes het reeds voor die Covid-19-pandemie begin om hul beleggingsprioriteite te herbelyn.

“Slegs in 2018 en 2019 het ons ongeveer ’n half miljard rand vir Shoprite gerealiseer deur ’n dosyn van hul nie-kern bates op te veil. Dieselfde het met verskeie ander fondse gebeur en selfs tydens die pandemie het beleggers nie hul aptyt vir hierdie tipe eiendomme verloor nie.”

Hy glo dat die pandemie verbruikers se gewoontes verander het.

“Mense reis nie meer ver op ’n daaglikse basis nie, tensy hulle regtig moet. Dit beteken dat hulle om en naby hul huise wil inkopies doen. Selfs diegene wat ver ry, verkies om eerder gou by ’n plaaslike winkel te stop na werk.”

Die veiling vind op Vrydag 20 April by die Bryanston Country Club in Johannesburg plaas. Meer inligting, sowel as ’n skakel na die veiling, is beskikbaar by www.highstreetauctions.com.

Related Articles

Back to top button