Letters

Brief: Hospitale bestee R685 miljoen aan diesel

Met slegs 76 staatshospitale en klinieke uit ’n totaal van 213 wat in hierdie stadium vrygestel is van beurtkrag kan die bestaande kragkrisis by gesondheidsinstellings net vererger met die winter wat aan die deur klop.

Philip van Staden, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LP en hoofwoordvoerder: Gesondheid, skryf:

Die VF Plus is geskok om te verneem dat die land se staatshospitale gedurende die tydperk 1 April 2022 tot 28 Februarie 2023 ’n bedrag van R685 miljoen bestee het aan diesel om die ligte aan die brand te hou.

Dit blyk uit ’n geskrewe vraag van die VF Plus aan die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, nadat die minister nie die mondelingse vraag hieroor in die parlement kon beantwoord nie.

Luidens die antwoord is die besteding per provinsie as volg:

• Oos-Kaap: R81,134,000
• Vrystaat: R21,263,000
• Gauteng: R131,357,000
• Kwazulu-Natal: R178,387,000
• Limpopo: R57,656,000
• Mpumalanga: R44,659,000
• Noord-Kaap: R28,303,000
• Noordwes: R40,494,000
• Wes-Kaap: R102,684,000

Die land se openbare gesondheidsdienste sit reeds met ’n agterstand van 175 000 mediese prosedures en mediese regseise ten bedrae van R125 miljard. Dan moet hierdie astronomiese bedrae bykomend aan kragopwekking bestee word.

Hierdie faktore alleen dui daarop dat dit nie nou die regte tyd is om die nasionale gesondheidsversekering (NGV) na die nasionale vergadering te stuur vir goedkeuring nie.

Die wetsontwerp moet op ys geplaas word totdat die gesondheidsektor gestabiliseer het en effektief kan funksioneer.

Met slegs 76 staatshospitale en klinieke uit ’n totaal van 213 wat in hierdie stadium vrygestel is van beurtkrag (antwoord van minister op 9 Februarie 2023) kan die bestaande kragkrisis by gesondheidsinstellings net vererger met die winter wat aan die deur klop.

Suid-Afrika se infrastruktuur sou nooit in duie gestort het indien die land die afgelope 29 jaar behoorlik bestuur en in stand gehou is en indien korrupsie, wanbestuur en wanadministrasie nie aan die orde van die dag was nie.

Met die huidige Eskom-krisis wat tans die land op sy knieë het, is dit nie nou die tyd om ANC-beleid soos die NGV deur die parlement te probeer dwing nie.

Daar moet eerder nou planne beraam word oor hoe om die huidige kragkrisis in die openbare gesondheidsektor hok te slaan.

Die tyd het aangebreek om die huidige ANC-regering uit die kussings te lig. Aanstaande jaar se verkiesing sal die ideale geleentheid wees om dit te bewerkstellig.

Suid-Afrikaners verdien veel beter as die huidige ANC-regering.

Related Articles

Back to top button