Local sport

Hulle is meesters op die atletiekveld

Geklee in hul oefenklere tree vier atlete reeds vroegoggend aan op die klam gras in ’n oopte tussen die bome in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle.

Om die worpe-sirkel wat tydens die Covid-19-tydperk by die oord gegooi is, staan hulle spiese, gewigstootballe en werpskywe. Dié vroue verfyn hulle tegniek sodat hulle op hul beste kan presteer tydens die Afrika-meesterskampioenskap in November in Kaapstad.

Annette van Dyk (68), Babsie Grobler-Crafford (79), Miggie van der Walt (70) en Ria Ludick (75) het verskeie medaljes huis toe gebring ná hul deelname aan die Gauteng-Noord Meestersatletiekkampioenskap se Claude Sterley Grand Prix vir worpe. Hulle neem in verskillende ouderdomskategorieë deel. Van Dyk, Van der Walt en Grobler-Crafford het silwer medaljes verwerf en Ludick ’n goue medalje.

Baie afgetredenes raak minder aktief, maar hierdie vier vroue het besluit hulle het nie lus vir stilsit nie.

“Ons het besluit om ten spyte van ons ouderdom en vermoëns wat afneem, steeds deel te neem aan sport, want ons is lief daarvoor,” het Ludick gesê.

Sy het verlede jaar ’n rugoperasie ondergaan.

“Ons warm baie deeglik op om beserings te voorkom,” het Van Dyk bygevoeg.

Die vroue was nog altyd lief vir sport. Van Dyk het 14 Comrades-maratons agter die rug en presteer jare lank reeds op meestersvlak. Sy hou steeds ’n Afrika-rekord vir spiesgooi.

Van der Walt het tot op 35-jarige ouderdom op provinsiale vlak aan naellope deelgeneem en ook muurbal en hokkie gespeel. Grobler-Crafford het aan naellope en verspring deelgeneem en in 2011 aan die wêreldbyeenkoms vir lyndans in Tennesee deelgeneem. Ludick, wat korfbal gespeel het terwyl haar kinders nog op skool was, vertel sy het in 2019 uit nuuskierigheid vir die eerste keer haar hand op ’n werpskyf gelê.

Die vyfkamp waaraan die vroue deelneem, sluit in hammergooi, gewigstoot, spiesgooi, werpskyf en gewiggooi. Gewiggooi is ’n sportsoort wat met ’n gewigstootbal wat aan ’n ketting is, vanuit die gewigstootring geslinger word.

Die vroue oefen twee tot drie keer per week saam en werk aan hulle tegniek. Hulle ander aktiwiteite help om hulle fiks te hou.

“Die lekker hiervan is dat ’n mens teen jouself meeding. Dit hou ook ’n mens se kop fiks om die verskillende tegnieke te bemeester,” het Van der Walt gesê. “Ons raadpleeg gereeld vir ‘tannie’ Google om te kyk of ons kan leer hoe om dit nog beter te doen!”

Benewens die voordele van aktief en sterk bly, is die vroue dit eens dat die kameraderie wat hulle op die sportveld met ander atlete beleef, een van die hoogtepunte van hul deelname is.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button