Local news

Paasfees: Luilekker vakansiedae en die ware betekenis

Wanneer herfs aanbreek, beteken dit Paasfees is om die draai en dan is die winkelrakke volgepak met die heerlikste paaseiers.

Die verskeidenheid gekleurde paaseiers is soms só oorweldigend dat dit jou kop laat draai voordat jy die moeilike keuse maak. Daar is verskillende groottes wat wissel van die witste sjokolade tot die donkerste en party se pryse laat behoorlik ’n mens se oë rek, maar die meeste van die tyd is dit oë toeknyp en geniet.

Vir Christene gaan Paasfees egter nie net oor die paashaas en paaseiers nie. Dit is ’n heuglike tyd om te vier.

“Op Goeie Vrydag lê ons klem op die kruisdood van Jesus en die boodskap dat Lig die duisternis oorwin. Ons gebruik dan ook Nagmaal. Die Sondagoggend is daar gewoonlik ’n oorwinningsboodskap met die klem op die opstanding,” het past. Tony Leit van die Lighuis in Mookgophong gesê.

“Ons koop ook vir ons kinders paaseiers en hou skattejag, maar die paashaas is glad nie deel van ons woordeskat nie. Vir ons kinders is dit net ’n avontuur en speletjie. Van klein Luna-Belle (6) tot die oudste van ons kleinkinders ken die waarheid van die Paasverhaal, met die hoofkarakter, Jesus Christus,” het hy gesê.

“Ons leer die kinders die ware betekenis van Paasfees, maar steek ook eiers weg en die paashaas sorg vir lekker kinderpret. Ek bak altyd vir hulle koekies in verskillende vorms soos hasies, eiers en wortels om te versier,” het Celesté Smit, mamma van klein Kaylin Smit, op ons voorblad, aan Die Pos gesê.

Hasies, eiers en geskenke met Paasfees het nie ’n Christelike oorsprong nie. Volgens die Universiteit van Florida se sentrum vir kinderliteratuur en kultuur kan die oorsprong van die paashaas teruggevoer word na die 13de eeu vC in Duitsland. Gedurende dié tyd het mense ’n paar gode en godinne aanbid. Die Duitse godheid Eostra was die godin van die lente en vrugbaarheid en feeste is gehou ter ere van haar. Haar simbool was die haas vanweë die hoë reproduksietempo van dié diertjie.

Hierdie gebruik is opgeneem in die viering van Paasfees buite die Christelike geloof. Vir Christene word Paasfees gevier omdat Jesus Christus die dood oorwin en opgestaan het.

Related Articles

Back to top button