Local news

Kroonenhof-brand gou geblus

Inwoners van die Kroonenhof-meenthuiskompleks in Robertsonstraat, Bela-Bela, was op Sondag 2 April baie dankbaar toe daar betyds alarm gemaak is toe ’n brand in die kompleks uitgebreek het.

Die brand het ongeveer 14:00 ontstaan nadat ’n rusbank wat buite op ’n stoep gestaan het, vermoedelik aan die brand geslaan het.

Johan Klopper, wat reg langsaan die betrokke huis woon, het aan Die Pos gesê ’n foutiewe buitelig was moontlik die oorsaak van die brand. Die huisbewoners was in daardie stadium nie in Bela-Bela nie, vertel Klopper.

Die vlamme het ’n venster en twee rusbanke in die huis beskadig. Die res van die woonstel se inhoud het ongeskonde gebly nadat van die inwoners met brandblussers en tuinslange die vlamme geblus het. Die dak het wonderbaarlik nie aan die brand geslaan nie.

Hoewel die brandweerdienste uitgeroep is, is die vlamme betyds onder bedwang gebring, vertel Johan.

“Die mense wat in die woonstel woon, was nie die oggend daar toe dit gebeur het nie. Hulle het later die middag opgedaag en almal wat gehelp het bedank. Bonnie Koorts van Realnet-eiendomsagentskap het aan die gesin ’n ander heenkome gebied totdat die skade herstel is.”

Inwoners is baie dankbaar dat die vinnige optrede groter skade voorkom het en dat die brand nie verder versprei het nie.

Related Articles

Back to top button