Local news

Oppas vir slange, waarsku veearts

Die Bosveld se wintertemperature is nie koud genoeg vir slange om te hiberneer nie en daarom moet ’n mens maar heeljaar op jou hoede in dié omgewing wees.

Die Nylstroom Dierekliniek in Modimolle het inwoners gewaarsku dat hulle ’n groot toename sien in honde wat deur slange gebyt word.

Indien dit wel gebeur, is die beste raad om die troeteldier so gou moontlik by ’n veearts te kry vir behandeling.

Volgens die Afrika-instituut vir slangbyte help baie van die “boererate” nie om ’n hond se lewe te red nie. Dit sluit in die mite om ’n dier melk of houtskool te voer, Allergex-tablette te gee of die punt van ’n dier se oor af te sny “sodat die gif kan uitbloei” en om ’n perd of bees met petrol in te spuit wat kamstig die gif neutraliseer.

Dié bielie van ’n pofadder het vir Serabi getakel.

Diere wat deur ’n slang met neurotoksiese gif gebyt word (meestal mambas en sommige kobras) se asemhalingstelsel word verlam. Sonder teengif en die hulp van ’n ventilator sal hulle nie maklik oorleef nie. Indien die dier ophou asemhaal op pad veearts toe, kan mond-tot-neus-asemhaling hom red.

Byte van sitotoksiese slange soos adders en spoegkobras veroorsaak pyn, swelling en blase wat tot weefselskade en bloedverlies kan lei. Indien ’n hond in die gesig of nek gebyt is, kan dit ook hul asemhaling benadeel. Dit is veral ’n probleem by kleiner honde.

In gevalle waar die slang baie gif ingespuit het, is polivalente teengif die enigste oplossing. Dit neutraliseer die gif van kobras, mambas, rinkhalse, pofadders en Gaboenadders. Volgens die instituut kos die behandeling tussen R4 000 en R20 000.

Wanneer daar gif in die dier se oë beland het, is die behandeling volgens die insituut dieselfde as vir mense. Spoel dit versigtig vir 15 tot 20 minute lank met water uit en kry die hond by ’n veearts vir plaaslike verdowing en antibiotiese oogdruppels. Die hond behoort sy sig binne ’n paar dae terug te hê.

Theunis Victor, plaaslike slangvanger en -kenner, sê wanneer inwoners ’n slang kry, hulle dadelik hul honde moet gaan toemaak en kinders weghou. “Honde word gebyt wanneer hulle die slang aanval. Die meeste slangbyte wat ek by honde raakloop, is deur wipneuskobras wat neurotoksies is en die asemhaling- en senuweestelsel aantas.” Hy waarsku dat daar landswyd ’n tekort aan teengif vir slangbyte is.

“Dit gebeur baie keer dat ’n slang ’n hond net skrams tref of nie so baie gif toedien nie.” Hy raai mense af om hul honde aan te hits om ’n slang dood te byt. “Daar is ’n 50% kans dat jy óf jou hond gaan verloor, óf dat dit jou baie geld sal kos om die dier se lewe te red.”

Hy sê wanneer inwoners ’n slang raakloop, moet hulle vier tot vyf meter weg staan en ’n kundige bel om dit te verwyder. Hou die slang die heeltyd in die oog.

Related Articles

Back to top button