Letters

Brief: Hou regering so ver moontlik weg

Die privaat sektor is beter in die bestryding van onbekwaamheid, terwyl die regering maatskaplike behoeftes en die langtermyn beter verreken.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Minerale hulpbronne en energie, skryf:

Die privaat sektor moet so veel moontlik doen om die land se kragkrisis die hoof te bied en die regering so min as moontlik.

Dit is nie ’n ideologiese posisie nie, maar gegrond op die prestasie van die onderskeie rolspelers die afgelope dekade of twee.

Die privaat sektor is beter in die bestryding van onbekwaamheid, terwyl die regering maatskaplike behoeftes en die langtermyn beter verreken.

In Suid-Afrika is dit egter anders. Hier slaag die regering nie een van die toetse nie.

Dit is noodsaaklik dat Eskom soveel krag opwek as moontlik, maar ook dat die frekwensie in die kragnetwerk gehandhaaf word.

Dit sal private produsente in staat stel om die netwerk, teen vergoeding, vir eie gebruik en verkope te benut.

Die regering moet sorg dat die mark vir elektrisiteit oopgestel word en dat regulering oor veiligheid gaan — nie oor die vraag wie toegang daartoe kan kry nie.

Sommige lede dink dadelik aan sogenaamde wit monopoliekapitaal as hulle van die privaat sektor hoor.

In werklikheid bestaan dit uit gewone mense wat in groot- en klein ondernemings werk en besluite beïnvloed. Dit is mense wat hier is om te bly en besef dat beloning soms uitgestel moet word.

Elektrisiteit word tans sentraal opgewek en versprei. In die toekoms sal dit toenemend verspreid opgewek én verbruik word.

Die huidige krisis is die gevolg van mense wat elkeen ’n klein bietjie skade gedoen het, sonder inagneming van die skade waartoe dit sou opbou.

Dit is dieselfde wyse waarop die krisis opgelos sal word: Deur talle rolspelers wat elkeen bydra — sonder ’n tussenganger wat die inkomstestroom na individuele sakke herlei.

Related Articles

Back to top button